Kersvader verras kinders op sy ysterperd
Nagenoeg 70 kinders van die Krugersdorp-omgewing is deur twee motorfietsklubs bederf.
“Kersvader! Kersvader!”
Só het nagenoeg 70 kinders van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum van opgewondenheid geskree toe die Xcalibur en Draconians motorfietsklubs besluit het om Kersvader op sy ysterperd daarheen te bring.
Sylvia Wessels, ‘n lid van die Xcalibur motorfietsklub sê hulle en die Draconians probeer elke jaar iets vir die kinders in die gemeenskap doen en het deur ‘n vriend meer van Mug & Tree te hore gekom.

“Daar het ons besef die nood is groot en het toe dadelik besluit dat die kinders ‘n bederfie nodig het.”
Estelle Opperman van Mug & Tree sê hulle is baie dankbaar vir alles wat hulle van die gemeenskap ontvang, veral hierdie tyd van die jaar wanneer dit finansieel sleg gaan.
“Daarom is ons bly as die gemeenskap ons bystaan. Die motorfietsklubs het die kinders baie bederf met lekkernye, eet- en drinkgoedjies, speletjies en gesigverf.”

Japie van der Westhuisen van die Draconians motorfietsklub het die rol van Kersvader gespeel en geskenke aan die kinders uitgedeel. Vir baie van die kinders sal hierdie geskenkies die enigstes wees wat hulle hierdie feesseisoen sal ontvang.
Opperman sê dit is vir hulle ‘n riem onder die hart om te sien dat daar soveel liefde en aandag aan die kinders gegee word.
“Dit is lekker om te sien hoe die kinders wat al deur soveel hartseer en swaarkry is van hulle omstandighede kon vergeet en heeldag pret hê.”
Die motorfietsklubs bedank graag al die borge wat bygedra het tot die sukses van die dag.
Vir nog foto’s, kliek hier.
Verwante stories:
• Eerder Kersfeesgees as om te bedel
