‘God het hom vir my geleen’
“Dit voel nie of dit ooit beter gaan word nie,” vertel ‘n gebroke vrou na die dood van haar verloofde.
Eileen Kelbrick is besig om die stukke op te tel nadat haar verloofde, Jean de Beer vroeër verlede maand verongeluk het.
De Beer het sy lewe verloor toe ‘n motoris wat glo onder die invloed van drank en dwelms was, met sy kar op die N14 gebots het.
Kelbrick, wat verlede jaar in April naam gemaak het as een van SARIE se Voorbladgesig-finaliste, het haar hart teenoor die news uitgestort.
“Ek het vir ‘n jaar lank gebid vir die man wat God in my lewe wil plaas. Dis toe dat ek vir Jean ontmoet het. Ironies genoeg beteken sy naam ‘Geskenk van God’ en dit is presies wat hy was.”
Hulle het met die eerste ontmoeting al geweet dat hulle eendag met mekaar sou trou.
Die paartjie was vyf jaar saam en sou volgende jaar in Junie trou, met die wittebrood wat reeds bespreek was.
Jean wat vir byna agt jaar ‘n dwelmverslaafde was, het sy weë verander toe hy ‘n wedergebore Christen geword het by ‘n Christen-gebaseerde sentrum in Limpopo.
Daarna het hy sy lewe daaraan toegewy om ander te help met hul verslawings.
“Hy het hulle selfs gehelp met fondse, al was dit sy fondse waarmee hy sy skuld moes betaal. Hy het altyd geglo en op God vir ‘n uitweg vertrou, en God het hom altyd gehelp. God was sy Held.”
Kelbrick vertel dat sy Jean se glimlag die meeste gaan mis.
“Daar is te min bladsye om te skryf wat ek als van Jean sal mis.”
Jean was op sy gelukkigste wanneer hy mense kon bedien en help.
“Die mens wat ek vandag is, is te danke aan die beste man wat ek ooit kon ken en liefhê. Ek dank die Here elke liewe dag dat Hy Jean vir my geleen het.”
Verwante artikel:
