Video: Kankerlyertjie verloor stryd
Nico Flowers, die jong kankerlyertjie, rus nou in vrede.
Nico Flowers, die jong kankerlyertjie van West Village het Saterdagoggend 29 November sy stryd teen die siekte verloor.
“As die Here jou wil hê dan gaan hy jou kom haal,” het sy pa Anton gesê.
“Ek is nog baie hartseer en sal later met die media gesels.”
Die news het onlangs oor Nico, ‘n Graad 1-leerling aan Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie berig wat in Februarie met Hodgkin’s Limfoom gediagnoseer is. Die siekte was toe reeds in die Vlak 4-fase nadat dit na sy kliere, longe, maag en beenmurg versprei het.
Hy het chemoterapie en bestraling by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg ontvang.

In September het Graincare, ‘n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie van Randfontein wat uit die drie maatskappye Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics bestaan ‘n funksie gehou.
Tydens dié funksie is daar onder meer geld vir Nico ingesamel om sy wenslysie te kon verwesenlik wat items soos skoene, inkleurboeke, mooi klere, jogurt, vars vrugte en gegeurde water ingesluit het. Hierdie items insluitende ‘n beperkte weergawe van ‘n geelkleurige Blou Bulle-trui is aan hom oorhandig.
Mariaan le Roux van Graincare sê haar hart is stukkend.
“My hart gaan uit na die ouers in hierdie moeilike tyd en ons sal hulle in gebed opdra,” sê sy.
“Hierdie is ‘n klein lewe wat te vroeg na die Here toe is en ek sal sy ouers in my gedagtes hou.”
Nico se kort lewe op aarde sal Donderdag 4 Desember om 11vm by die Veranderde Lewens Kerk, in Georginia, Roodepoort tydens sy begrafnisdiens herdenk word.
Hier is Nico tydens Graincare se besoek met al die geskenkies wat hy ontvang het
