Peuter begin herstel na amperse verdrinking
Al is die driejarige peuter nog ver van gesond af nadat hy verlede maand amper verdrink het, gaan dit al baie beter met hom.
Die driejarige Tristan Sellwig herstel goed nadat hy verlede maand amper in ‘n swembad verdrink het.
Die driejarige peuter sal binnekort vir rehabilitasie kan gaan.
Klein Tristan se ouma, Lynette Minnie, het gesê alhoewel daar nog ‘n tragea-pyp in sy keel is waardeur slym uit sy bors verwyder word, is hy nie meer aan ‘n ventilator gekoppel vir suurstof nie.
“Hy is nog ver van gesond af. Al kry hy ook nog medikasie teen spasmas gaan dit reeds beter met hom,” het Minnie gesê.
Tristan is reeds ‘n paar dae gelede uit die intensiewesorgeenheid van die Netcare Garden City Kliniek na die hoësorgeenheid geskuif. Hy sal heel waarskynklik binne die volgende paar dae na die Netcare Rehabilitasiehospitaal in Auckland Park oorgeplaas word wat omvattende fisiese rehabilitasiedienste bied aan mense met fisiese gestremdhede.
Daar sal dokters en spesialiste eers werklik kan vasstel of Tristan enige permanente skade opgedoen het en ook kan vasstel hoe lank sy pad na herstel sal wees.
“Ons is so dankbaar vir almal se gebede en boodskappe vir Tristan,” het Minnie gesê.
“Die Here het deure oopgemaak en deure oopgebreek vir ons kind om die moeilikste te kan oorwin.”
Tristan is verlede maand gered nadat hy in Minnie se swembad in Rant-en-Dal beland het. Sy het hom op die bodem sien lê en dadelik om hulp geroep.
Die tuinier het in die swembad gespring en hom uitgehaal waarna Minnie en Tristan se tannie mond-tot-mond asemhaling begin toepas het totdat paramedici van Netcare 911 opgedaag het.
Chris Botha, ‘n woordvoerder van Netcare 911 het toe gesê dat hulle die seuntjie dadelik aan ‘n ventilator gekoppel het en gevorderde lewensondersteuning begin toepas het voordat hy per helikopter na die Netcare Garden City Kliniek vervoer is.
Verwante artikel:
• Peuter vorder na amperse verdrinking
