Nuwe hoop vir voormalige straatwerker
'Na die eerste lyn was dit verby en toe verkoop ek myself vir dwelms.'
‘n Voormalige sekswerker is uit die kloue van dwelms bevry danksy die vroue by die Cradle of Hope, ‘n hawe vir mishandelde vrou en kinders.
Farica le Roux het finaal haar verslawing die trekpas gegee na haar tweede besoek aan die hawe, wat in Krugersdorp-Wes geleë is.
Le Roux is as ‘n tiener verkrag en glo dat dit daartoe bygedra het dat sy ‘n sekswerker geword het en later aan dwelms verslaaf geraak het.
“Hy het my seergemaak en ek kon dit nie verstaan nie.”
Na sy vier kinders moes laat aanneem, het Le Roux keer op keer weer in die kloue van dwelms en prostitusie beland.
Sy verduidelik aan die news dat sy eers as ‘n sekswerker by ‘n ‘agentskap’ gewerk het en later met dwelms te doen gekry het weens te min slaap as gevolg van lang werksure.
Haar agent het haar laat een aand laat kokaïen gebruik.
“Na die eerste lyn was dit verby want toe werk ek basies vir my dwelms.”
Sy vertel hoe hulle byna reg deur die nag moes werk en dan vroegoggend opstaan om die huis weer reg te kry vir nuwe kliënte.
Alhoewel Le Roux nie op straat gewerk het soos ander sekswerkers in Luipaardstraat nie, ken sy die bedryf baie goed.
“As dit nie vir Cradle of Hope was nie, was ek steeds ‘n verslaafde.”
Sy het die afgelope dekade gereeld met haar verslawing geworstel maar toe sy aan Cat en Crystal Meth verslaaf raak, het sy besef sy het ‘n probleem en moes ‘n uitweg vind.
“Ek het my glaspypies met bakstene stukkend geslaan.”
Nadat sy ‘n jarelange vriendin vir hulp gevra het, was sy vir vier weke in ‘n rehabilitasiesentrum en het toe weer by Cradle of Hope beland.
“Ek bedank graag vir Elni Jansen van Vuuren en Antoinette Maritz wat my nie net gehelp om die nodige medikasie te kry nie maar ook om my terug by die hawe te kry.”
Le Rouw wil graag teruggee aan die gemeenskap deur by skole en kerke motiveringspraatjies te lewer om jongmense te waarsku teen die gevare van dwelms.
