Daar is hoop na ‘n egskeiding
Hierdie kursus is oop vir almal wat deur 'n egskeiding gaan of gegaan het.

Egskeiding is een van die ergste goed wat met jou kan gebeur. Dit is soos ‘n tornado wat jou lewe tref en verwoesting saai op elke gebied en jy bly oor met die geraamte van dit wat eers jou lewe was.
“Jy moet opstaan, jou masker opsit, vir kliënte glimlag maar hier binne jou is dit dood. Jou kinders het vrae waarvoor jy nie antwoorde het nie. Elke sin in jou gedagte begin met hoekom, kon dit nie maar … of dalk as ek …,” sê Joey Human wat op 3 Februarie ‘n egskeidingskursus aanbied.
Joey noem dat almal ‘n kitsoplossing wil hê om van die pyn ontslae te raak en om weer in beheer te voel van hul lewens.
“So ‘n kitsoplossing bestaan ongelukkig nie. Gesond word na ‘n egskeiding kan maande, selfs jare duur. NG Krugersdorp-Oos het ‘n Divorce Care-program om dit vir jou beter te maak. Vir 13 weke leer jy stap vir stap hoe jy die verskillende struikelblokke op jou pad kan aandurf en by ‘n eindpunt van volwaardige mens in jou eie reg kan uitkom.
“Jy leer hoe jy weer met hoop en verwagting na die toekoms kan kyk.
“Hierdie program is nie net bedoel vir gemeentelede nie; ons rig die uitnodiging aan enige persoon wat voel dat hy of sy hierby kan baat.”
Hierdie kursus is oop vir almal wat deur ‘n egskeiding gaan of gegaan het.
“Ja, ek praat hier ook met die manne. Ek is met ‘n geskeide man getroud. Ons het drie jaar na sy egskeiding afgehandel is ontmoet en is nou veertien jaar gelukkig getroud, maar selfs nou nog kom daar dae wanneer seerkrydinge kop uitsteek.”
Joey, ‘n geregistreerde berader, sal saam met Jakes Joubert as fasiliteerder tydens die volgende Divorce Care-kursus optree. Indien jy enige verdere inligting benodig skakel haar gerus by 082 856 9323 of skakel Martie by die NG Krugersdorp-Oos kerkkantoor by 011 955 4667.
Die koste vir die kursus beloop slegs R200 per persoon en dit sluit die kursusmateriaal in.
