Tien tree terug na inbrekers toeslaan
Derduisende rande se skade is aan 'n voertuig van 'n niewinsgewende organisasie, wat na gebroke vroue en kinders omsien, aangerig.
Nagenoeg R35 000 se skade is aangerig aan ‘n bussietipe voertuig, wat ‘n niewinsgewende organisasie vir slegs vier dae gehad het.
Wat bestem was om ‘n heerlike aand uit te wees het in ‘n nagmerrie vir Melodie van Brakel, stigter van Cradle of Hope in Krugersdorp-Wes ontaard.
Personeel en inwoners by dié organisasie, wat na gebroke vroue en kinders omsien is onlangs deur ‘n donateur genooi om ‘n heerlike bord kos by ‘n familierestaurant in Ruimsig te geniet.

“Ons het so ‘n lekker aand gehad, maar toe ek by ons voertuig (‘n Toyota Avanza) kom, besef ek iemand het daarby ingebreek” het Melodie gesê.
Nadat sy die bestuurdersdeur oopgemaak het, het sy gesien die paneelbord is gebreek en die drade is uitgepluk, moontlik op soek na ‘n opsporingstelsel. Die radio is gebuit.
Die inbrekers het toegang tot die voertuig deur die passasiersdeur verkry nadat hulle die slot oopgebreek het.
“Ek verstaan nie hoe die karwagte dit nie gesien het nie. Die inbrekers moes maklik 30 minute lank besig gewees het en dit laat ons kopkrap of die karwagte dalk betrokke kon wees.”
Sy verduidelik dat sy terselfdertyd kwaad en hartseer is, “want hier probeer ons die vroue en hulle kinders ‘n beter lewe gee, dan gebeur dit.
“Dit is asof ons drie tree vorentoe gee en dan met so ‘n terugslag weer tien tree terug gee.”
Melodie het gesê dit het hulle drie keer se heen en weer ry gekos om die vroue weer terug by die organisasie se huis van hoop te kry.
“Dit was eintlik ons enigste vervoermiddel, want ons Toyota Tazz is reeds 16 jaar oud en het self ernstige herstelwerk nodig.”
Sy het voorts gesê dat daar ‘n vrou by hulle is wat enige oomblik in kraam kan gaan en hierdie terugslag maak dit vir hulle moeilik om nou vir die baba se koms gereed te wees.
“Ons bid reeds agt jaar vir ‘n bussie, maar het sover nog nie regtig geld gehad om een te koop nie.”

Weens die skade aan die voertuig sal dit minstens twee maande lank nie gebruik kan word nie terwyl hulle wag dat dit herstel word.
Chris Marks, mede-eienaar van die restaurant het aan die news gesê dat hulle baie simpatiek teenoor die organisasie is en altyd hulle bes doen om hul kliënte en hulle eiendom veilig te hou.
“Ons het reeds baie gedoen om dit veiliger te maak, soos om ekstra beligting en ‘n elektriese heining te installeer.”
Hy het gesê die karwagte het ook ‘n paniekknoppie wat hulle enige tyd as hulle in gevaar is of iets vreemds opmerk kan druk.
“Die karwagte gaan ‘n leuenverklikker toets aflê wat ons sal dek en indien hulle wel betrokke is, sal ons seker maak die regte stappe word teen hulle gedoen.”
Marks het gesê wanneer sy kliënte deur misdaad geraak word, is hy self ook ‘n slagoffer.
“Ek is bereid om hulle weer terug te nooi op my koste, want ek verstaan waardeur hulle moes gaan. Ek is self kwaad oor die misdaad in ons land.”
