Verruil werksuniform vir Blou Bul-trui
Die 43-jarige Frikkie Maré, 'n voorraadkontrolleerder by die Netcare Krugersdorp Hospitaal, sê hy raak nie sommer moeg vir sy werk nie, maar wanneer hy wel kans kry om tyd vir homself te maak sal dit altyd iets wees wat met sport – en veral rugby – te make het.
• Wat doen jy graag Vrydagaande en oor die naweek?
Op Vrydagaande en oor naweke kry ek die geleentheid om tyd af te staan aan die dinge waarvan ek hou. Dis wanneer ek voor die televisie is en sport soos rugby kyk. Volgens my is daar net een span en dit is die Blou Bulle.
• As jy nie ‘n voorraadkontrolleerder vir die Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal was nie, wat sou jy dan wou wees?
Ek dink ek sou ‘n stoorman by ‘n myn of ‘n groot pakhuis wou wees.
• Jy is onlangs vir 15 jaar diens deur die Netcare-groep vereer. Hoe voel jy oor dié mylpaal wat jy bereik het?
Dit is beslis ‘n mylpaal en om dit te kon bereik maak my baie gelukkig. Dit is regtig baie harde werk en ek kan net die Here dank dat hy my so lank gespaar het.
• Was jy jou lewe lank ‘n voorraadkontrolleerder by die hospitaal?
Nee. Ek doen die werk nou eers agt jaar lank. Ek was eers amper sewe jaar lank ‘n hospitaalportier.
• Wat sou jy sê is die belangrikste deel van jou werk?
Om te alle tye seker te maak dat al die pasiënte hulle medikasie stiptelik kry. ‘n Gelukkige pasiënt maak my gelukkig.
• Watter aspek van jou werk maak dit vir jou die moeite werd om elke dag werk toe te kom?
‘n Mens leer daagliks so baie by jou werk en ook hoe om onder druk te werk, veral wanneer jy vinnig moet werk om die pasiënte se medikasie by hulle te kry.
• Het jy enige stokperdjies?
Ek het ‘n groot liefde daarvoor om legkaarte van duisende stukkies te bou. Dit hou my besig wanneer ek nie voor die kassie na sport kyk nie.
• In watter restaurant of koffiewinkel kuier jy graag?
Beslis die Spur.
• Het jy enige troeteldiere?
My vierpotige kinders is Vlooi, ‘n Chow-wolfhond kruising en Vielies die huiskat.
• Het jy ‘n spesifieke plek waar jy daarvan hou om stil te raak?
Beslis by Margate langs die strand. Ek hou daarvan om op die rotse te sit en oor die lewe na te dink, soos ‘n regte filosoof.
• As jy nie by die huis of by die werk is nie, waar sal ‘n mens jou kry?
Heel moontlik iewers in die dorp se strate.
• Waarheen sal jy nog wil reis en het jy enige gunsteling vakansiebestemmings?
Margate Rest is seker my gunsteling vakansiebestemming, maar as ek eendag die geleentheid kry sal ek graag die VSA wil plat toer.
• Wat is jou gunsteling:
Fliek: Hmmm … tel sport as ‘n fliek?
Musiek: Enige Afrikaanse of countrymusiek.
Kos: Braaivleis!
Drankie: Enige koeldrank, solank dit net nie Stoney is nie.
Winkel: Key West Winkelsentrum
