Editor's choiceLocal newsNews

Facebook-gebruikers kry snuf in die neus

'n Vrou het Facebook gebruik om 'n familie in nood te help, maar die gemeenskap het haar motiewe begin bevraagteken.

Die sogenaamde barmhartige samaritaan wat op die sosiale netwerk facebook mense gevra het om ‘n ander gesin te help, het intussen haar pleidooi onttrek nadat die gemeenskap haar agenda bevraagteken het.

Haar boodskap, wat op die Krugersdorp en Roodepoort Network Community bladsye geplaas is, vertel ‘n hartseerverhaal van ‘n anonieme gesin in Krugersdorp wat blykbaar al hulle besittings in ‘n onlangse brand verloor het.

Daar was egter verskeie negatiewe reaksies toe die vrou gevra is waarheen die donasies gaan.

Met ‘n ‘swaar hart’ vra die vrou op die blad vir donasies wat huishoudelike ware en selfs ‘n yskas, mikrogolfoond, tweeplaatstoof en meubels insluit.

Haar boodskap was (ongeredigeer), “Om eerlik met jul te wees ek weet mense weet nie altyd of hul ‘n post kan glo nie maar ek het ‘n bitter klein harkie en kry ook swaar maar ek help eerder ander voor ek aan myself dink en die mense het dit eerlik waar brood nodig.”

Sy sê verder die (sogenaamde) slagoffers is steeds getraumatiseer en dit is die rede waarom sy hulle anoniem hou.

Niemand weet wanneer of waar die sogenaamde brand plaasgevind het nie.

Die News het besluit om die vrou uit te vra oor die gesin maar sy het geweier om enige inligting bekend te maak.

Joernalis Marizka Coetzer het toe weer die vrou gekontak deur ‘n private boodskap te laat. Sy het daarop gereageer dat sy nie meer by die insameling of die familie betrokke is nie.

Sy het ook die volgende aan die News geskryf. “Als lyk vir almal altyd dodgy maar mense wil ‘n druggie help met donasie … ag asseblief. Los als nou. Sal my eie manier vind om hul te help.”

Die News is steeds op soek na die familie om die gerugte te bevestig.

Die vrou het ook haar boodskap van die bladsye verwyder.

Back to top button