Kuns was altyd deel van Marsha
Die uitdrukking op mense se gesigte wanneer hulle haar werk sien inspireer haar.
‘n Plaaslike kunstenaar, Marsha Steyn, is besig om haarself in haar realistiese potloodsketse uit te leef en terselfdertyd haar droom te laat waar word.
As ‘n klein dogtertjie onthou Marsha hoe sy altyd mooi vroue met groot hoede geteken het en gedroom het om eendag een van hulle te wees.
“Ek dink teken was nog altyd deel van my.”
Haar een hoërskoolonderwyser, Christelle Pretorius het haar gehelp om haar passie vir kuns te ontwikkel.
“Ek het ook ekstra kunsklasse by Jade Culhane geneem. Sy het vir my soos ‘n ma geword – sy het my talente gekoester en help ontwikkel.”
Sy het haar innerlike kunstenaar goed leer ken toe sy na skool kuns by die Universiteit van Johannesburg gaan swot het.
Marsha skets graag met houtskool en spesialiseer in portrette van mense en diere.
“Dit gee my die geleentheid om met swaar kontraste te werk, iets wat ek baie geniet. Ek voel baie gemaklik en selfversekerd om portrette te teken, omdat elke gesig uniek is en vir my uitdaging gee. Ek leer altyd iets nuut.”
Sy geniet ook om met akriel te verf omdat sy voel sy enige onderwerp daarmee kan uitdruk.
“Dit laat my toe om nuwe aspekte van kleur, donker en lig te ontwikkel deur kleure te meng en te eksperimenteer.”
Kuns is vir haar ‘n manier om mense se emosies aan te raak en iets van haarself daarmee uit te beeld.
Kunstenaars soos Diane Victor, Dan Willem Boshof, Berni Searle, Dumeli Feni, Nandipa Mntambo en Antoinette Murdock speel ‘n groot rol in haar inspirasie en meen dat van haar lektore by UJ soos Gordon Froud, Kim Berman, David Paton en Manette Vari haar oë vir plaaslike kuns oopgemaak het.
Marsha het gesê sy het sy nie ‘n gunsteling kleur nie omdat elke kleur ‘n doel het in ‘n skildery.
Haar kunsdoelwit is om naam te maak as kunstenaar in die area en ‘n ateljee te kry wat haar as kunstenaar teenwoordig.
Sy wil ook graag haar talent met die gemeenskap deel deur haar kunsklasse op ‘n groter skaal aan te bied en haar liefde vir kuns aan ander oor te dra.
“Daar is niks so lekker soos om mense se reaksies te sien op jou kunswerk nie. Ek voel dis my manier om terug te gee. Ek maak kuns om geluk in die wêreld te bring. Ek sit alles in elke kunswerk, daarom is daar iets van my in elkeen. Ek is kalm en op ‘n plek waar niks anders saak maak nie. Ek’s op my gelukkigste alleen met iets wat ek besig is om te skep.”
Loer gerus na Marsha se meesterstukke op haar Facebook-blad Pencil Heads – Art by Marsha Steyn of kontak haar by marsharhodasteyn22@gmail.com.
