Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Paartjie erken brand is wolhaarstorie

Krugersdorp se eie Facebook kulkunstenaars erken daar was nooit 'n brand nie.

Skaars twee minute in die onderhoud erken Madelein Coetzee en Renier Pretorius dat die insameling pleit wat hulle op Facebook gedoen het vir kamstige brandslagoffers wel ‘n wolhaarstorie is en dat daar geen afgebrande huis of slagoffers is nie.

Die insameling was wel vir vriende van hulle wat tans in Appelpark woon.

Die paartjie het onverwags by die News se kantore in Witpoortjie opgedaag om hulle kant van die storie te vertel; dit nadat daar talle onsuksesvolle pogings vanaf joernalis Marizka Coetzer aangewend is om hulle kommentaar te kry.

Coetzee het erken dat die vriendin, vir wie sy wou insamel, langs haar gesit het toe hulle die boodskap op die Facebook-blad Krugersdorp Network Community getik het.

“Dit kan werk,” het sy gesê toe sy beskryf hoe hulle die boodskap uitgedink het.

Coetzer en haar kollega Jacobus Myburgh het die paartjie gevra oor Pretorius se sogenaamde ligte beroerte wat die oggend van hulle oorspronklike beplande afspraak plaasgevind het.

Coetzee het van Pretorius se selfoon ‘n boodskap aan die News gestuur wat lees; “Môre Marizka, dis Madelein, Renier se verloofde. Ek weet nie wat gaan aan vandag of wat gaan gebeur vandag nie, maar Renier het gister dit verloor en ‘n handvol slaappille gedrink. Hy is nou nog nie wakker nie.”

Die boodskap was 9.43vm gestuur, omtrent dieselfde tyd wat Pretorius die ‘ligte beroerte’ gehad het en in die hospitaal opgeeindig het.

Pretorius vertel dat hy in Dr Yusuf Dadoo Hospitaal wakker geword het nadat hy swart kolle begin sien het, en dat hy dadelik opgestaan en uitgeloop het omdat hy nie ‘n drup wou gehad het nie.

Pretorius se foon het ook op hierdie dag gebreek, ironies genoeg, 15 minute na die boodskap van Coetzee gestuur is.

“Ons steel nie,” sê Coetzee, soos hulle vure probeer doodslaan na die aanvanklike artikel vir die eerste keer op 3 Maart op die News se webwerf en Facebook-blad verskyn het.

Die paartjie ontken dat hulle ooit ‘n lys uitgestuur het wat vra vir items soos Puma skoene en ‘n Playstation.

“Dit was nie ons nie, ons was geskok toe ons dit sien.”

Verder beweer die paartjie hulle goedhartigheid is wat hulle in die moeilikheid laat beland het en meen dat hulle dadelik met die insameling gestop het.

“Ek wil net my kant skoon kry, ons steel nie. Ons gee net om vir mense,” beweer Coetzee.

Sy meen haar bewoording vir die boodskap op Facebook was verkeerd geinterpreteer en dat hulle vir die vriende omgee wat blykbaar nie eers ‘n yskas in hulle huis het nie.

Coetzer vra toe vir die paartjie oor die rekenaars en selfone wat hulle vir herstelwerk insamel waarna geantwoord is dat hulle vriende in Appelpark dit wel reg maak en dan verkoop.

Die werklose paartjie erken dat hulle ‘arm vriende’ van Appelpark geblameer moet word vir die verdwyning van ‘n vrou se BlackBerry en die rekenaars wat hulle as te koop geadverteer het.

“Ons is regtig nie slegte mense nie, ” vertel hulle desperaat aan die News.

Luister na die klankgreep hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button