Paasfees bring kindervreugde
Die Deo Gloria Sopkombuis het hierdie jaar die fokus geplaas om kinders in te lig dat die Paasfeestydperk nie net oor sjokolade en lekkernye handel nie.
Dit was ‘n dag van opgewondenheid toe sowat 100 behoeftige kinders van die Deo Gloria Sopkombuis met lekkernye vir die Paasfeestydperk bederf is.
Christa le Roux, stigter van die sopkombuis het gesê die kinders het Donderdag 2 April baie geniet toe die Paashase (Frans van der Berg en Zellindie Meyer) die kinders met allerlei lekkernye kom verras het.
Dié Paaseiers is deur die Mickey Muis Dagsorg verskaf en die eienaar van Bubbles Springkastele het gesorg dat die kinders daarna al hulle energies kon uitspring.
“Ons het ook hierdie jaar meer gefokus om die kinders die Paasfees storie te vertel en hulle in te lig dat dit nie net gaan oor die lekkernye wat hulle oor hierdie tydperk kry nie – maar wat die eintlike betekenis daarvan is.”

Swannie Swanevelder het die kinders ook met sy eie handgemaakte marionethandpoppe kom vermaak.
Christa het gesê sy is dankbaar vir elkeen wat van hierdie dag ‘n sukses gemaak het.
“Ek bedank ook graag al my sterretjies, dit is nou al die werknemers van Deo Gloria, wat bygedra het tot die suskes van hierdie funksie.”
Sy het gesê dit is vir haar lekker om te sien hoe die kinders se gesigte met ‘n glimlag ophelder.
“Dit is ons visie om hulle gelukkig te kan maak.”

