Editor's choiceLocal newsNews

Depressie lei haar terug na musiek

Elana Bettings van Featherbrooke het net musiekagtergrond op skoolvlak, maar met die Here se leiding het sy nou al met bekroonde mense gewerk.

‘n Internasionaal bekroonde kunstenaar het ‘n plaaslike komponis so geïnspireer dat sy ingestem het om ‘n besoek in Suid-Afrika af te lê.

‘n Liefde vir musiek is reeds van ‘n jong ouderdom by Elana Bettings van Featherbrooke gekweek, maar die gedagte om ‘n loopbaan te volg wat ‘n inkomste genereer het haar vir ‘n tydperk van musiek laat afwyk.

“Ek het toe in ‘n tydperk verval waar ek baie depressief begin raak het en dit is toe dat ek ‘n manier gesoek het om na ‘n ander wêreld binne my denkwyse te kon vlug – en dit wat daarna gevolg het is sover ‘n ongelooflike reis.”

Sy vertel die saadjie van musiek komponeer het weer by haar opgevlam toe sy die fotoboek Psalmen in Beeld van die Nederlandse kunstenaar Anneke Kaai as geskenk van haar tannie wat in Amersfoort in dié land woon ontvang het.

“Ek was dadelik geraak deur haar kunswerke wat sy uit geloofsoortuiging met verwysing na spesifieke tekste uit die Bybel skilder.”

Met slegs ‘n musiekagtergrond op skoolvlak het Elana geweet dat hierdie kunswerke vra om getoonset te word.

“Dit is waarom ek toe vir Anneke ontmoet het en toestemming verkry het om die teks wat haar skilderye uitbeeld te kon toonset.”

En dit was asof God self Sy goedkeuring gegee het, vertel Elana opgewonde.

“Die melodieë het van Hom afgekom, selfs gedurende die nag en dan moes ek vinnig spring en dit gaan neerskryf, want anders sou dit weg gewees het! Sommiges het ek inderdaad verloor.”

Sy het voorts gesê dit laat haar herinner aan ‘n reël uit die rolprent As it is in Heaven waar ‘n karakter gesê het: “All music is already composed, it must just be brought to earth.”

Dié musiek, verstaan sy nou, is werklik reeds daar en dit was vir haar ‘n ‘Hemelse ervaring’ toe sy dit selfs beleef het.

Al gedeelte van die legkaart was dat sy toe iemand nodig gehad het om haar musiek van papier af in musiek te laat klink en sonder dat sy dit beplan het, het Christa Steyn, ‘n Afrikaanse sangeres, komponis en pianis dit vir haar begin verwerk.

“Ek het die ritme vir die woorde gesoek en sy het die melodie intens persoonlik laat leef en ek is van mening dat niemand anders hierdie klanke soos sy sou kon vasvang nie.”

Hierdie werke, het Elana gesê is nog nooit deur enigiemand ander gehoor nie en sy voel dat dit as huldeblyk aan Christa, wat in 2012 oorlede is, opgedra behoort te word.

Alna van der Watt is die sangeres wat met ‘n Engelstem die tekste vertolk .

“Ek sien regtig daarna uit dat mense hierdie werke nes ek sal waardeer!”

‘n Kunsuitstalling, Releasing the colours from Heaven deur Rona Zwarts, ‘n student van Anneke wat ook deur haar werk geïnspireer is, open hierdie week in die Alice Art Gallery, 54 Dryflaan in Ruimsig.

Elana se musiek op die album Worship Through the Arts sal tydens hierdie uitstalling gespeel word.

Anneke sal Dinsdag aand 14 April om 6nm as gasspreker by die opening van die kunsuitstalling teenwoordig wees. Voorafbespreking is noodsaaklik.

Vir meer inligting kontak Elana by 0833798106 of Alice by 083 377 1470.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button