Met die landwye herrie oor standbeelde en erfenisgebiede wat aan die koloniale- en apartheidsera herhinner het Jacobus Myburgh die strate ingevaar om te hoor wat die publiek hieroor te sê het en of dit verwyder moet word.
Aamina Patel, 28, van Azaadville, sê al is haar kennis oor Suid-Afrikaanse geskiedenis baie beperk voel sy dit is verkeerd om 'n deel van die land se geskiedenis te wil verwyder. "Ek het vir jare lank in Kaapstad gebly en dit was toe vir my lekker om die standbeelde en erfenisterreine langs die pad te sien. Hoekom rig dié wat so kla oor die huidige standbeelde nie nuwes op nie? Los die standbeelde wat klaar daar is uit!"
Anton Carinus, 63, is eintlik van Zimbabwe afkomstig en sê hy weet nie regtig veel oor Suid-Afrika se geskiedenis nie maar reken dat die standbeelde moet bly. “Dit is ‘n deel van Suid-Afrikaners se geskiedenis en as dit verwyder word, word Suid-Afrikaners se reg, tradisie en geskiedenis ook van hulle weggevat.”Mogomotsi Hlahla, 35, woon eintlik in Pretoria en stem nie saam dat dit verwyder behoort te word nie. “Dit is tyd en geld mors! Dit is ‘n deel van ons almal se geskiedenis — as ek my kinders oor die geskiedenis wil vertel moet ek ook vir hulle hierdie standbeelde kan wys, want ek kan nie vir hulle leë plekke gaan wys nie.”Mophefo Kekana, 30, sê sy is al so moeg vir al die protesaksies, dat sy nie eers meer saans na werk na die televisie nuus wil kyk nie. “Die standbeelde moet bly, want ons kinders moet van hulle leer. Dit is hartseer om te hoor dat daar mense is wat voel dat dit nie deel van ons geskiedenis is nie en verwyder behoort te word en dit maak my kwaad; dit is ons almal se geskiedenis.”Attie Hartslief, 42, ‘n inwoner van Pretoria sê hy is glad nie tevrede met die feit dat standbeelde landswyd gevandaliseer word nie. “Hoe sal dié betrokke mense voel as ek Nelson Mandela se standbeeld in Pretoria gaan vandaliseer? Hierdie standbeelde (Paul Kruger en ander) is deel van ons geskiedenis. Dit staan al reeds so lank waar hulle staan, so hoekom wil hulle nou kom krap waar dit nie jeuk nie. Hierdie is ‘n deel van al on Suid-Afrikaners se geskiedenis.”