Tannie wat in ossewa gebore is vier 100ste
Tannie Kollie Booysen vier haar 100ste verjaarsdag saam met vriende, familie en vier ook die feit dat sy in 'n ossewa gebore is.
Na byna 26 jaar van bestaan, vier bejaardes van Emmanuel tehuis hulle eerste 100ste verjaarsdag.
Tannie Kollie Booysen het haar 100ste verjaarsdag op 9 April met ‘n spesiale partytjie, wat deur die tehuis gereël is, gevier saam met kosbare vriende en familie.
Familie het van die hoeke van die wêreld gekom om die spesiale geleentheid by te woon.
Kollie se kleindogter, Christel van den Berg (50) het aan die News vertel van haar ouma se geboorte en die legendaries verhaal wat daarmee gepaard gaan.
“My ouma was 100 jaar terug op ‘n ossewa, op een of ander Zulu koning se plaas gebore,” verduidelik Christel.
Volgens haar ouma het die koning vir haar geboorte ‘n skaap, vark, bees en ‘n hoender as geskenk aan haar ouers gegee.
Alhoewel nie een van hulle presies weet waar sy gebore is nie, kan hulle wel bevestig dat dit plaasgevind het tydens die Eerste Wêreld Oorlog.
Haar agterkleindogter, Nasjki van den Berg, het Kollie al as ‘grootjie’ gedoop en het die inwoners van die tehuis met trane in haar oë bedank vir al die moeite en liefde wat hulle vir haar oumagrootjie toedien.
Die News het die vier vroue geslagte afgeneem by die partytjie wat almal interesant genoeg met 25 jaar verskil.
• Oumagrootjie: Kollie Booysen 100 jaar oud
• Kind: Connie Pieterse 75 jaar oud
• Kleinkind: Christel van den Berg 50 jaar oud
• Afterkleinkind: Nasjki van den Berg 25 jaar oud
‘n Kleindogter en Skoondogter het al die pad van Nieu-Seeland ingevlieg om die geleentheid by te woon.
“Ek onthou hoe ek by haar gekuier het en hoe ek altyd boontjies in die tuin moes pluk en haar help met die voorbereiding van die kos,” vertel Eldoret Coxen, wie saam met haar ma, Eileen Booysen ook by die geleentheid aangesluit het.
Die familie beplan ‘n groot makitie môre, 11 April, in eer van hulle geliefde Ouma, wat selfs deur familie van Dubai bygewoon sal word.
