[VIDEO+FOTO’s] Verf val van Krugersdorp se geskende beelde
Die Erfenisstigting het die beelde van Paul Kruger en JG Strijdom vanoggend met 'n verfspuit kom afwas,
Die geskiedkundige monumente van President Paul Kruger en Advokaat JG Strijdom langs Hoërskool Monument word weer tot hulle volle glorie gerestoureer, maar die vraag is, vir hoe lank?
Dit volg nadat vandale dit iewers gister, 15 April, gedurende die oggendure met rooi polivinielasetaat (PVA) verf bygekom het en kras woorde soos ‘f*#k bore’ (sic) en ‘f*#k Kruger’ (sic) daarop aangebring het.

Lede van die Nasionale Erfenisstigting was vanoggend op die toneel om die verf, waarvan sommige nog nat was, met ‘n waterspuit af te was.
Gister 15 April het Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid vir Mogale City gesê hulle veroordeel die skending van beelde en dat dit lafhartigheid is om so iets te doen.
“Ons wil dit dus duidelik maak dat ons nêrens heen gaan nie, hulle kan hul verf bring en ons sal dit net weer afwas – ons is hier om te bly,” het sy gesê.
“In ons oë is hierdie mense wat ongeletterd is en geen geskiedenis het nie.”
Vroeg vanoggend het verskeie lede van die gemeenskap bymekaargekom om te sien hoe die verf verwyder word.
Jaco de Beer, ‘n advokaat woonagtig in Krugersdorp het gesê hy het gister Alana Bailey, die Adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum gekontak waar hy gesê het hy is bitter ongelukkig oor die jongste skending.

“Dit is óns geskiedenis en dit is ‘n geskiedenis wat vir die nageslag bewaar behoort te word, want as dit verwyder word gaan ons kinders en dié wat na hulle volg gaan nie weet waar hulle vandaan kom nie.”
Hy het gesê uit die optrede van die vandale blyk dit dat hierdie monument nou nog meer as ooit bewaar moet word.
Die News het vertroulik inligting ontvang dat daar nou moontlik gekyk gaan word om geslotekringtelevisiekameras om die beelde te laat installeer.
Nkosana Zali, munisipale woordvoerder vir die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het op sy beurt gesê hulle is baie ontevrede oor die vandalisering.
“As hulle wel met hulle verf sal kom, sal ons nie moeg raak nie, ons sal aanhou dit skoonmaak totdat hulle moeg word om dit te skend.”
Hy het gesê as die vandale voel hulle het iets op die hart moet hulle dit eerder met die betrokke mense kom deel as wat hulle dit op die verskeie monumente uithaal.

Krugersdorp het altesaam 11 monumente waaronder die grootste deel daarvan by die Burgershoop begraafplaas is.
“Geskiedenis is deel van ons en om monumente te beskadig gaan niks help met die transformasie van ons land nie.”
Zali het voorts gesê ‘n vergadering is vanoggend gehou waarby verskeie rolspelers soos openbare veiligheid, die polisie, die Wes-Rand Sakekamer en Toerisme sowel as lede van die munisipaliteit die kwessie bespreek oor hoe die monumente se veiligheid verseker gaan word.
Hy het gesê die skoonmaak befondsing word deur vrywilligers, die Erfenisstigting en Afriforum verskaf.
Vir nog foto’s, kliek hier.
