Local newsNews

[VIDEO]: Begraafplaas-‘opsigters’ spook teen uitsetting

Die 'opsigter' Jannie Barnard sê hy weier om te trek, veral nadat sy lewensmaat se been en 'n voet geamputeer is.

Daar is nie ‘n bang haar op die koppe van Ella Ellis en Jannie Barnard, beter bekend as Burgershoop Begraafplaas se ‘opsigters’ nie.

Hulle woon reeds meer as nege jaar in ‘n klein kamertjie by die ingang van dié geskiedkundige begraafplaas met grafte wat uit die laat 1800’s dateer.

“Nou word ons weer deur die [Mogale City Plaaslike] munisipaliteit met ‘n uitsettingskennisgewing gedreig, want hulle wil glo sekuriteit hier insit, sekuriteit wat te bang is om in die aand hier rond te loop,” het Jannie gesê.

“Ons is al soveel jare hier en die mense wat besoek aflê waardeer dit.”

Hy verwys merendeels na die mense wat die grafte wat uit die Anglo-Boereoorlog sowel as die Eerste en Tweede Wêreldoorloë dateer, kom besoek.

“Dié besoekers soek gereeld na grafte en sê hulle is baie dankbaar dat daar iemand is wat dit vir hulle kan uitwys. Ek is ook hier om toe te sien dat die grafte nie verder geskend word nie.”

Begraafplaas inwoners sukkel; moet glo uit

Maar nou wil die munisipaliteit hulle glo Munsieville toe verskuif, maar hy weier, het Jannie gesê.

“Ek gaan nie in ‘n shack in Munsieville bly met ‘n vrou wat nie eens meer kan loop nie!”

Sy lewensmaat Ella se regterbeen is verlede jaar in Desember afgesit nadat ‘n seldsame virus dit aangetas het.

“Die stukke vleis het so van my been afgeval; al wat hulle kon doen was om die been te verwyder,” het sy gesê.

Haar linkervoet is reeds 28 jaar gelede afgesit nadat sy in ‘n motorfietsongeluk betrokke was.

“Ek het agterop die motorfiets gesit toe ‘n motor ons getref het. Die buffer van die motor het my voet getref en dit vergruis,” het sy gesê.

“By die hospitaal het hulle nie betyds agtergekom dat die are van my tone na my voete afgesny is nie. Ek het toe gangreen gekry en my voet moes afgesit word.”

Jannie het self jare gelede sy voet ernstig in ‘n werksverwante ongeluk beseer.

Hy het gesê hulle het ook al aansoek gedoen vir die staatsbehuising vir bejaardes oorkant die begraafplaas, maar moet keer op keer hoor daar is nie plek vir hulle nie en hulle is glo 400ste op die waglys.

“Ons is albei afhanklik van ‘n ongeskiktheidspensioen en kan nie ‘n ander heenkome bekostig nie,” het hy ontsteld gesê.

“Hoe moet ek vir ‘n vrou wat nou gereeld mediese behandeling moet kry, sorg as sy nie eens kan loop nie?”

Hy het gesê hy doen self die huistake soos kosmaak, klere was en stryk, en doen self die inkopies.

“Dit gaan maar swaar met ons.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button