Kinderhuis breek weg van gewone konsep
Om 'n huismoeder vir sewe kwesbare kinders te wees is veeleisend, maar tog lonend.
Na jare se bestaan beoog die Baby Moses Kinderhuis se ‘ouers’ om weg te beweeg van die tradisionele kinderhuiskonsep en om eerder een groot gesin te vorm.
Hulle strewe daarna om ‘n normale gesinslewe te bied omdat hulle glo stabiliteit help die kinders om vinniger deur hulle trauma te werk en beter te genees.
Sewe kinders is onlangs weens erge verwaarlosing en dwelmmisbruik in die goeie sorg van huismoeder Ina van As geplaas.
“Ons het die kinders in ‘n normale huis in Ina se sorg geplaas omdat hulle daar gouer gesond word,” het Lanie de Klerk, stigter van Baby Moses verduidelik.
Die kinders word so gemaklik in hulle nuwe huis dat hulle die sorgouers soms as hulle eie ouers aanvaar.
“Die vroue word gewoonlik mamma genoem en om die een of ander vreemde rede word die man oupa genoem,” het Lanie vertel.
Alhoewel hierdie konsep duur is in vergelyking met die tradisionele kinderhuiskonsep, glo Lanie geen koste is te hoog om ‘n kind se opvoeding en welstand te verseker nie.
“Dit is ‘n spesiale ervaring omdat die pleegkinders jou eie word,” het Ina emosioneel vertel.
Die Krugersdorp-huis het 17 maande terug geopen na ‘n brand die vorige huis verwoes het.
Omdat Ina ervaring het van dwelmmisbruik en haar eie kind daaraan moes afstaan is sy ‘n goeie kandidaat om die kinderste versorg wat weens dwelmmisbruik uit hul ouers se sorg weggeneem is.
Sewe kinders tussen die ouderdom van twee en agt woon tans by Ina en haar man.
“Hulle is engeltjies,” meen Ina, hoewel Lanie nie juis daarmee saamstem nie.
Die sewe kinders kom uit twee verskillende gesinne en beskou mekaar nou as hulle boeties en sussies.
Ina en Lanie beskryf fondse hulle grootste uitdagings.
Omdat hulle nie net na die kinders se welsyn moet omsien nie, maar hulle ook heen en weer skool toe, na sportbyeenkomste, terapie en buitemuurse aktiwiteite moet vervoer, kan die rekeninge aan die einde van die maand redelik hoog wees.
Daaglikse aankope soos brood, melk en eiers is ook op hulle lys van benodighede.
Alhoewel die kinders weens hulle omstandighede vrygestel is van skoolfonds moet die huismoeder steeds sorg vir skoolklere en ander behoeftes.
“Die kinders word ook groter en groter, en mens kan net soveel maal die klere aanstuur voordat dit te klein is,” vertel Ina.
Die vroue wil graag die gemeenskap uitnooi om hulle by Baby Moses te ondersteun met enige donasies of selfs geskenkbewyse.
“Dit is werklik moeilik, veral in ‘n tyd wanneer liefdadigheidsorganisasies om jou toemaak,” het Lanie gesê.
