Local newsNews

Begraafplaas is ook hul tuiste

Vir vyf ander begraafplaas bewoners, wat uit rugsakke 'n bestaan maak, gaan die lewe in 'n begraafplaas oor oorlewing.

Twee vriende en ‘n paartjie is omring deur die dooies en hierdie feit pla hulle glad nie – of miskien net ‘n bietjie.

“Dit gaan eintlik oor oorlewing. Om in ‘n begraafplaas te bly is ook nie vir ons die ideale plek nie, maar wat anders kan ons doen?”

Só het Corrie Havenga, 59, vertel toe die News hom en nog ander ‘begraafplaasbewoners’ by die Burgershoop Begraafplaas raakgeloop het.

Hy vertel hoe hy sy werk as meulemaker verloor het en sedertdien op genade die lewe deurtrap.

“Ek is gekwalifiseerd, maar oral waar ek aansoek doen vir werk moet ek hoor ek is té gekwalifiseerd. Op die oomblik gee ek nie om oor wat die salaris is nie, dit sal baie beter wees as dit wat ek tans het – wat niks is!”

Ook Albert Swarts en Hans van Staden, albei 47, het gesê hulle is bereid om enige werk te verrig.

“Maar ons kry gedurig baie beloftes van werk, maar dit is ook al wat ons kry: beloftes. Ek sal enigiets gaan doen,” het Albert gesê wat hom en sy lewensmaat Maria Barnard, 49, met handgemaakte goedere aan die lewe hou.

“Die geld is nie baie nie, mense betaal my soos hulle kan,” het hy gesê op die vraag oor hoeveel hy dan daarvoor verdien.

Hans, wat soms by die verkeersligte staan en bedel, het erken dat hulle van die geld wat hul verdien vir drank en sigarette gebruik.

“Ons doen nie dwelms nie, en al het ons, glo ek nie ons sal geld daarvoor hê nie,” het hy geskerts.

“Drank en sigarette word slegs gekoop wanneer ons genoeg geld het vir kos.”

Hy het glo net die gebruik van ‘n halwe long nadat sy longe jare gelede in ‘n trokongeluk beseer is.

“Dit is waarom ek moeilik praat,” verduidelik Hans.

Albert vertel dat hulle snags vuur maak, maar dat die alkohol hulle deur die nag bring.

“Ons raak soms bang en kry koud; en die alkohol help ons dan om daardie vrese te oorwin.”

Dit is duidelik dat hulle nie veel het nie; net ‘n paar dun komberse wat op die grasperk langs die grafte van die historiese konsentrasiekamp vroue en kinders wat gedurende die Anglo-Boere Oorlog gesneuwel het, lê.

“Heel toevallig het ek nou my beste klere aan vandag,” lag Hans.

“Ons leef maar uit dié rugsakke,” en hy wys met na die vier sakke wat so in ‘n ry langs mekaar gepak is.

Met die News se vertrek het Maria van die winkel teruggekeer en hulle het saam aan die sakkie koeldrank gedrink.

“Dit is al wat ons op die oomblik kan bekostig,” het Hans gesê en vinnig bygevoeg: “ek hoop regtig mense sal die berig lees en ons help.”

Verwante artikels:

Dooies al jare lank sy bure

Kwaaddoeners skend geskiedkundige grafte

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button