Standbeelde weer blinkgepoets
Die beelde van Krugersdorp sal moontlik aan die einde van die dag weer tot ere herstel wees.
Die beelde van advokaat JG Strijdom en President Paul Kruger behoort nou weer skoon en blinkgevryf te wees – maar teen ‘n prys natuurlik.
Só het Jean-Claude Olsen van Graffiti Removal Services (GRS), wat ook vir die skoonmaak van die Cecil John Rhodes standbeeld in Kaapstad verantwoordelik was voordat dit finaal verwyder is, gesê.

Dit volg nadat albei Krugersdorp se beelde verlede Woensdag 15 April met rooi verf geskend is, ten spyte daarvan dat ‘n griefskrif aan Mogale City Plaaslike Munisipaliteit oorhandig is om die beveiliging daarvan te verseker.
Die Erfenisstigting het GRS gekontrakteer wat ook die standbeeld van Paul Kruger en sy burghers in Pretoria nog van al die oorblywende groen verf gaan verwyder.

“Die vandale hier (op Krugersdorp se beelde) het enamel verf gebruik en dit is regtig nie goedkoop nie,” het Olsen gesê
Hy het gesê om hierdie verf te verwyder benodig hulle ‘n gespesialiseerde chemikalieë om die beelde en die klipfondament nie te beskadig nie.
“Ons gebruik ‘n sekere verf verwyderende insolvent om te verseker dat die beelde nie na die behandeling sal roes nie.”
Die totale koste om albei die beelde skoon te kry word op sowat R15 500 beraam.

Olsen het ook genoem dat derduisende liters skoon water gebruik moes word.
“As ek moet skat sou ek sê ons gaan maklik 6 000 liter water, die ekwivalent van die gratis liters water wat elke huishouding kry, gebruik om die beelde weer tot ere te herstel.”
Hy en nog drie ander is hard aan die poets om dit te verseker.

