Slang seil deur piesangs
Vrugte is in alle rigtings gesien trek soos daar na die slang gesoek is.
‘n Spoeg kobra, ‘n boomslang of ‘n huisslang?
Dit is hoe inkopiegangers oor ‘n slangetjie, wat tussen piesangs op die rak van President Hyper verskyn het, begin wonder het.
Carol Hall het gesê sy wou nog piesangs uit die rak haal toe haar vingers die slang, wat blyk om ‘n gewone bruin huisslang van sowat 30cm lank, rakelings geraak het.

“Toe ek dit oplet was daar natuurlik groot verbasing.”
Uit vrees het die slang self al tussen die piesangs verwdyn, maar ‘n inkopieganger wat op een van die plase in die omgewing woon het toe tot sy redding gekom.
“Die inkopieganger het na die slang begin soek en dit in ‘n plastieksak gesit om later op die plaas te kan loslaat,” het sy gesê.
“Die slang was eintlik glad nie aggressief nie, maar ek kan sê hierdie vrou wat hom gevang het was beslis baie braaf gewees.”
Bestuur van die hipermark het gesê dit was die eerste keer dat so iets by hulle winkel gebeur het.

“Dit wys net dat as ons sê ons produkte is organies, dan praat ons die waarheid.”
Die ‘onskuldige’ slangetjie moes moontlik al die pad van die piesangboerdery in die Laeveld tot Krugersdorp gereis het.
Die bestuurder het voorts gesê werkers was besig om die piesangs uit te pak toe hy oor die voorval ingelig is.
