[VIDEO]: Akteur dankbaar vir blikkie-ondersteuning
Ivan Zimmermann sê hy is dankbaar vir elke persoon en instansie wat gehelp het om blikkies vir die Can-A-Kilo projek in te samel.
Ivan Zimmermann, die voormalige Egoli-ster kon nie uitgepraat raak oor hoe verbaas hy is oor die ondersteuning wat hy van die Krugersdorp-gemeenskap ontvang het nie.
Hy is al amper ‘n maand terug in Suid-Afrika nadat hy onlangs die fietsspeke vir 12 000km van Cairo, Egipte tot Kaapstad vir honger kindermagies laat sing het as deel van die Tour d’ Afrique-fietstoer.
Sy mikpunt was om een blikkie nie-bederfbare kos vir elke kilometer wat voltooi is vir die Can-A-Kilo-projek te probeer insamel.
Amanda Verster-Van der Merwe, ‘n Facebook-vriend het sy goedhartigheid raakgelees en besluit om te help toe sy besef het daar is geen insamlepunte aan die Wes-Rand nie.
Daarom het sy die News-span genader om haar en Ivan se droom te help bewaarheid.
“Ek staan nederig! Dit is die meeste blikkies wat oor al die insamelpunte ingesamel is, eintlik kan ek nie glo hoeveel blikkies ingesamel is nie,” het Ivan by Amanda se huis in Wentworthpark gesê.
Sowat 3 000 blikkies in totaal is vir die Can-A-Kilo projek ingesamel wat dit weer aan die Hanna Charity and Empowerment Foundation gaan skenk wat sal seker maak dit gaan na behoeftige kinders.
“Baie dankie vir elkeen se ondersteuning, ek waardeer dit regtig baie!”
Dit was die eerste keer wat Ivan so ‘n lang fietstoer aangepak het en het bygevoeg dat dit ook nie sy laast een gaan wees nie.
“Ek is ‘n kranige bergfietsryer en het dit as motivering gedoen. Daar was nie ‘n dag wat verby gegaan het wat ek nie gedink het ek ek kan nie meer voortgaan nie, maar dan onthou ek weer waarom ek dit doen – leiers gee nie op nie!”
Al wat vir hom die ergste was, was om in dele van Afrika die koue en wind te moes trotseer.
Sy volgende avontuur gaan oor ‘n afstand van 14 000km strek wanneer hy ‘n fietstoer van Beijing tot Istanbul in Asië aanpak.
Amanda het gesê sy is danbaar vir elke persoon en instansie wat gehelp het om van die blikkie-projek ‘n sukses te maak.
Ivan en Amanda gaan ook nog aan verskeie ander projekte saamwerk.
