Amper drie keer dood verklaar
'n Jong amperse verdrinkingslagoffer was amper drie keer dood verklaar, maar vandag word hy as 'n wonderwerk beskou.
Twee jaar gelede het sy ouers vir die ergste begin voorberei, maar vandag word ‘n amperse verdrinkingslagoffer as ‘n lewende wonderwerk beskou.
Die vierjarige Bart Senekal was 11 maande oud toe hy gedurende die winterseisoen in sy ouers Ingrid en Edmund se swembad in Radiokop, Roodepoort beland het – ‘n dag wat tot vandag nog by hulle spook.
By hul nuwe huis in Monument trek Bart met graagte sy skoene aan, want hy glo dit laat hom nog vinniger hardloop.
Tog is dit moeilik om te glo dat hierdie seuntjie, wat met soveel lewenslus en energie die lewe vierkantig in die oë kyk, amper drie keer deur dokters dood verklaar is.
Verwante artikels:
• Peuter vorder na amperse verdrinking
• Peuter begin herstel na amperse verdrinking
• Geloof en hoop dra familie na swembadongeluk
Edmund trek sy seun nader soos hy op die rusbank sit, maar Bart wil niks van stilsit weet nie.
“Dit was ‘n Sondag en ons was besig om vir kerk klaar te maak toe ons besef Bart word nêrens gesien nie. Paniekbevange het ek, my vrou en seun Dian na hom begin soek.”
Die egpaar se oudste dogter Dané was op hierdie stadium op die laaste dag van haar netbaltoer.
“Ek het in die kaste gekyk en selfs probeer sien of ek hom nie dalk in die swembad gewaar nie, maar in die haastigheid om hom te kry het ek hom nie raakgesien nie,” vertel Edmund.
Hy het toe weer sy soektog in die huis voortgesit en het uit desperaartheid weer in die swembad gekyk.
“Ek het hom met die swembadbesem raak gevee; hy moes toe maklik vir nagenoeg 15 minute onder die water gewees het.”
Hy is onmiddellik in die gesin se motor gelaai en na die Life Wilgeheuwel Hospitaal vervoer waar kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op hom uitgevoer is.
Nog verwante artikels:
• Help bekamp verdrinking met swemlesse
• Swemskool bevorder waterveiligheid
“Dit het mediese personeel ‘n uur lank geneem voordat hulle ‘n pols by hom kon kry. Met die oorplasing na die Netcare Garden City Kliniek per helikopter het hulle sy pols twee keer verloor; dit het hulle elke keer nog ‘n uur met KPR geneem om sy pols weer te kry,” het Ingrid gesê.
“Ons wou mal word, want ons het toe nie heeltemal geweet wat aangaan nie. Ons het hom eers vyf ure later gesien.”
Vir vyf dae lank was Bart onder sedasie geplaas sodat sy liggaam weer na normaal kan terugkeer. Gedurende hierdie tydperk het een van sy longe platgeval en sy ander organe het minder begin gefunksioneer.
“In die eerste 72 uur was hy in ‘n yspakkie toegewikkel om sy stygende liggaamstemperatuur stabiel te hou. Dokters het toe ook begin agterkom dat daar infeksie in een van sy longe is en drukking op sy brein, hart en niere het begin ontwikkel,” het Ingrid gesê.
“Dit het op daardie stadium nog gelyk of hy moontlik aan breinskade kan ly.”
Hy was drie weke lank in die kliniek voordat hy vir rehabilitasie na die Netcare Auckland Park Rehabilitasie Hospitaal verplaas kon word, maar Ingrid wou hom toe eers vir drie dae by die huis gehad het.
“Dit was ‘n naweek en ook Moedersdag daardie Sondag. Ons het reeds reggemaak om hom daardie Maandag terug hospitaal toe te vat toe ons hoor hulle kan hom nie opneem nie, want hy funksioneer normaal.”
Om dit te moes hoor was vir haar die beste nuus ooit.

“In daardie drie dae wat hy by die huis was het ek die grootste wonderwerke gesien gebeur. Eers het ons nie geweet hoe ons lewe vorentoe gaan wees nie en toe hoor ons dat Bart weer gesond is en net nodig het om vir opvolgbesoeke te gaan.”
Sy het gesê dit is ‘n bewys dat kinders wat ‘n amperse verdrinking oorleef ‘n goeie kans op herstel het.
“Vandag hardloop Bart rond, sy spraak is perfek en hy is in die kleuterskool waar hy glad nie ‘n agterstand teen die ander kinders van sy ouderdom het nie. Eintlik kan dit nie beter met hom gaan nie.”
Hy neem ook swemlesse en geniet elke oomblik in die water.
“Al wat ons deur hierdie moeilike tydperk deurgedra het was geloof en die ondersteuning wat ons van ons gemeenskap sowel as mense wat ons nie eens ken nie.”
Edmund het gesê hulle het oproepe van so ver as Australië en Saudi-Arabië ontvang van mense wat deur middel van gebedsgroepe van hulle storie gehoor het.
Ingrid het genoem die trauma wat hulle as gesin deurgemaak het, het hulle steeds nie verlaat nie, maar dit gaan reeds elke dag beter.
“As mense sê jy is te paranoïes oor waar jou kind is wees maar, want vandag hou ek my kind met ‘n valkoog dop en pas hom soos goud op.”
