‘Hospitaal maak my siek’
Tienjarige Zander Oosthuizen het vir vier dae in Leratong Hospitaal gelê waar hy geïgnoreer was, sê sy ma.
“Hoe kan iemand ’n kind so behandel? ’n Tienjarige seuntjie is nie veronderstel om sulke dinge te ervaar nie.”
Tanya Oosthuizen is woedend nadat sy haar seun in sy eie braaksel een oggend op die hospitaalbed by Leratong Hospitaal gevind het.
Zander Oosthuizen, 10, het Vrydagaand 10 Julie ’n vreeslike steekpun in sy sy gekry. Sy ouers het hom na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal geneem. Twee uur later is Zander na Leratong Hospitaal, die enigste streekstaatshospitaal aan die Wes-Rand, oorgeplaas.
“Hy is so 6vm teater toe, maar is eers 8vm geopereer om sy blindederm te verwyder,” het Tanya vertel.
Die volgende Dinsdag het Zander ’n reeks onaangename ervarings by die hospitaal gehad.
“Ek kon my kind nie daar los nie. Ek moes hom self bad, kos gee en nuwe beddegoed bring terwyl hy in die hopsitaal was.”
Tanya en Hanna Oosthuizen, Zander se ouma, het gesê hulle sou nooit verwag die hospitaalomstandighede kon so erg wees nie.
Na vier aande in die hospitaal, is Zander op 14 Julie ontslaan en Tanya het hom huis toe gevat om self na hom te kyk.
By die huis het Tanya sy steke vir die eerste keer skoongemaak.

Hanna, wat ’n verpleegster was, kan nie glo Zander moes in ’n saal langs volwasse mans lê nie.
“Is ’n tienjarige nie veronderstel om in die kindersaal te lê nie?”
Tanya het vertel dat haar kind haar gevra het waarom die verpleegsters pasiënte in die aande in hul kamers toesluit. Zander het vertel dat hy self moes regkom in die aande en dat die verpleegsters kwaad geraak het as hy hulle hulp nodig gehad het.
“Hulle was vies vir hom toe hy neerval op pad badkamer toe, want hulle was besig om te slaap,” het Tanya gesê.
Tanya het ook vertel dat Zander ’n verdagte sappie gedrink het.
“Ons het vir Zander ’n 500ml sappie gekoop saam met ’n twee-liter bottel van dieselfde sap. Hy het die sappie opgedrink en toe weer met die bottel volgemaak. Hy het weer ’n bietjie daarvan gedrink, maar gesê dit proe vreemd. Maar die res van die sap in die twee-liter bottel het nog normaal geproe.”
Tanya het self aan die sappie geproe en verduidelik dat dit bitter was en haar maag gebrand het. Hanna het die sap onmiddelik uitgespoeg toe sy daaraan proe. Zander was ook gereeld siek en naar. Die braaksel waarin hy op sy hospitaalbed gelê het, is vermoedelik van hierdie sap.
“Ons weet nie wat om hiervan te maak nie. Die poliesieman wat ook aan die sap geruik het, het gesê dit ruik verdag,” het Tanya gesê.
Met hulp van vriende gaan Tanya vir Zander na ’n privaat hospitaal neem en die sappie laat toets.
Fikile Oyekanmi, Leratong Hospitaal-woordvoerder, het gesê die saak is na hul gehalteversekering departement gestuur vir verdere ondersoek.
Verwante artikels:
• Casualty crisis at Leratong Hospital
• Leratong weier hulp aan gewondes
• Vrou huis toe met koeël in sy: hospitaal staaf hul weergawe
