Local newsNewsUpdate

Kuns is polisieman se kameraad

Kaptein Moray Slabbert van die Krugersdorp Polisiestasie het deur kuns post-traumatiese stres oorwin en kyk vandag met ander oë na die lewe om hom.

Om voor ‘n kunsesel te kan inskuif – en dit nogal op die vloer op ‘n kussing – laat Kaptein Moray Slabbert, 45, toe om vir ‘n slag van sy lewe as polisieman te vergeet en kunstenaar te wees.

Dié polisieman van die Krugersdorp Polisiestasie het 15 jaar gelede sy eerste kunsklas begin loop en vandag kan hy as wenner erken dat hierdie klasse hom gehelp het om post-traumatiese stres te oorwin.

“Kuns is my ontvlugting. Toe ek begin het, kon ek net nie ophou nie, want dit is deur kuns wat ek begin besef het ‘n mens se omstandighede kán daardeur verander word.”

Hy onthou toe die gogga hom destyds gebyt het, het hy in die plaaslike biblioteek ‘n boek gaan soek en toe uitgeneem wat hom die basiese riglyne van hoe om as kunstenaar te teken, uitgewys het.

“Ek was nog altyd lief vir kuns, reeds van my laerskool tydperk af, maar ek dink soos ‘n mens ouer geword het, het ‘n mens vergeet watter wonderlike medium dit eintlik is.”

LEES OOK: Kuns is polisieman se groot liefde

Moray was skaars nog in sy laat 20s toe hy depressief begin raak het en dit is daardeur dat sy pad weer met dié van kuns gekruis het.

“Ek het voor my kunsklasse eers glaswerk gedoen en die stimulasie daarvan was wonderlik, dit was vir my soos om ‘n legkaart te bou waar al die stukke inmekaar begin pas.”

Vandag wanneer hy na die wêreld deur sy kunstenaarsoog kyk, kyk hy daarna met ander oë en sien hy al die lyne, kleure, teksture en vorms raak en beskryf hierdie gevoel as iets wat hom baie gelukkig maak.

“Dit is net iets anders om te beleef, ‘n mens voel dan of jy die wêreld deur kuns kan verander tot ‘n plek wat vol vreugde is. Daar is soveel hartseer daarbuite en kuns is eintlik die enigste ontvlugting wat ‘n mens het om die wêreld op ‘n ander vlak raak te sien”

Baie van sy werk wat hy taamlik realisties, maar meer as ekspresionisties beskryf, is reeds regoor die wêreld versprei en een van sy kunsvorms het in die lente-uitgawe van die Amerikaanse kunstydskrif FYGRC Creator’s Magazine verskyn.

Moray het gesê hy het al meer as 400 verskillende kunstige skeppings gemaak wat uit, onder ander, potloodsketse en skilderwerk bestaan.

“Ek was voorheen baie sportmal en sou nie een enkele wedstryd wou mis nie. Kuns het my ook daarvan weggetrek en ek gee nie om om stoksielalleen in my werkskamer te sit met klassieke musiek wat saggies in die agtergrond speel terwyl ek en my kuns mekaar geselskap hou nie.”

Verwante artikels:

VIDEO: Verfkwaste vertel unieke storie

Mona Lisa kry nuwe eienaar

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Back to top button