Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Gebroke man praat oor sy vrou en ongebore baba se dood

"Die dokter wat haar daardie dag gehelp het is 'n vark," was 'n emosionele Deon se reaksie toe die gebeure van daardie donker dag met hom bespreek is.

Alicia le Grange se man en ook die pa van hul ongebore dogtertjie soek na antwoorde oor die gebeure wat daartoe gelei het dat sy vrou en dogter gesterf het.

Deon le Grange het die News op 22 Julie by Dr Yusuf Dadoo Hospitaal ontmoet om te gesels oor die tragedie wat sy gesin uitmekaar geskeur het.

Die hoogs swanger Alicia is op Donderdagmiddag 16 Julie vermoedelik weens ‘n suurstoftekort by die hospitaal dood.

Tydens die News en Deon se besoek aan die hospitaal het ‘n dokter en woordvoerder van die hospitaal die strukture van die hospitaal verduidelik.

“Die dokter wat haar daardie dag gehelp het is ‘n vark,” was ‘n emosionele Deon se reaksie toe die gebeure van daardie donker dag met hom bespreek is.

Deon is steeds ongelukkig omdat hy voel dat die dokter wat daardie dag aan diens was, nie net ongeskik was nie maar ook onsensitief.

“Toe Alicia dood is toe vra hy my ewe, ‘hoekom huil jy’?” het Deon verduidelik. Wat ook aan hom krap is dat die hospitaalsusters daardie dag bly sê het hulle gaan eers op Alicia fokus. Deon het eers agterna gehoor daar staan in die hospitaal se verslag dat hul baba se hartjie nie meer geklop het nie, maar die Le Granges is nooit daaroor ingelig nie.

Deon voel steeds dat die ambulansdienste wat hulle vroeër daardie dag ontbied het om Alicia hospitaal toe te neem ook ‘n rol in hulle dood gespeel het.

Voor Alicia se dood sou ‘n ander ambulans haar Leratong Hospitaal toe neem waar sy meer intensiewe sorg sou kry aangesien Dr Yusuf Dadoo Hospitaal nie ‘n intensiewesorgeenheid het nie.

Alhoewel albei ambulanse nie suurstof gehad nie, het die hospitaal wel gehad.

Hy vertel aan die News dat Alicia se toestand nog stabiel was toe hulle haar by Yusuf Dadoo in die ambulans wou laai, en sy het self oorgeklim na die ander ambulansbed.

“My Bok, ek is by jou en ek gaan jou nie los nie,” was die laaste woorde wat Deon aan sy vrou gesê het, oomblikke voordat haar gesig begin vertrek het. Sy het haar gesig twee keer om ‘n vreemde manier getrek voordat die personeel Deon gevra het buite te wag.

“Dit is steeds so onwerklik – toe sy haar gesig so trek, toe weet ek dis verby.”

Na ‘n paar minute is Deon teruggeroep en die suster het aan hom verduidelik dat sy vrou pas oorlede is.

“Daar was niks om te verduidelik nie, sy is dood,” het hy met ‘n knop in sy keel gesê.

Die paartjie was vir sewe jaar saam. Hulle was drie jaar getroud en het ‘n tweejarige seuntjie.

Alicia was net 26 jaar oud, nie 27 soos vroeër berig is nie.

“Sy het so daarna uitgesien om ‘n dogtertjie te hê, en ons seuntjie nog meer om ‘n sussie te hê. Hy het aanhoudend bly sê ‘sussie kom, sussie kom’ en selfs sy mamma se maag gevryf en met sy sussie gepraat.”

Die presiese oorsaak van Alicia se dood is steeds onbekend en sou deur ‘n nadoodse ondersoek vasgestel word. Die hospitaal het vir Deon gesê dit is glo te laat om een uit te voer aangesien die lyk al ‘n week by die hospitaal lê.

Die News het hierdie bewering met ‘n deskundige van die Roodepoort Patologiedienste bespreek, en hy het gesê dit is onwaar. Dit is hoegenaamd nie te laat vir ‘n outopsie nie, maar die probleem lê by Dr Yusuf Dadoo Hospitaal wat nog nie die nodige dokumente gereed het sodat hulle Alicia se oorskot kan gaan haal nie.

‘n Ontstelde Deon vertel hoe hul seuntjie aanhoudend na sy mamma vra, maar hy weet nie hoe om vir hom te verduidelik dat sy mamma nooit weer huis toe kom nie.

“Ek wil nog net een keer aan haar gesig vat en haar ordentlik groet,” het die gebroke man en pa gesê.

Soortgelyke artikels: 

• Mother and baby die due to lack of oxygen 

Shocking details about mother and baby’s death

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button