Vir 50 jaar word hierdie paartjie elke oggend langs mekaar wakker – en hulle sou dit geen ander manier wou hê nie.
Sussie en Manna Coetzee, wat albei in Krugersdorp grootgeword het, het hul 50ste huweliksherdenking op 7 Augustus gevier. Ben Coetzee, een van hul drie kinders, het die paartjie en nabye familie na Zebula Lodge in Limpopo geneem vir ’n interaktiewe ondervinding met olifante.
“Ek het nog nooit so iets ervaar nie. Dit was wonderlik,” het Sussie gesê.
Ben en sy vrou Rina het vertel dat die paartjie werklik ’n goeie voorbeeld is van hoe ’n huwelik moet wees. Volgens Rina lag Sussie baie vir Manna se grappe.
“Ek dink dis die lag wat hulle so jonk laat lyk.”

Inderdaad lyk 69-jarige Sussie en 75-jarige Manna ’n hele paar jaar jonger as wat hulle is.
“Ons bly heeltyd besig. Manna werk nog van die huis af as ’n werktuigkundige en ek bak steeds,” het Sussie gesê. Dit is albei se passie, daarom wil hulle nie daarmee ophou nie.
Met drie kinders en ses kleinkinders, spog die paartjie met ’n familie wat baie na aan mekaar is.
Manna het Sussie in sy vroeë 20’s ontmoet, en het gesê die laaste 50 jaar is sy beste jare gewees.
“Dit is 50 jaar van spesiale oomblikke. Van die eerste kind tot die eerste huis,” het Manna gesê.
Wat is dié paartjie se wenresep vir ’n suksesvolle huwelik? Hulle meen jy moet nie jou maat te na aan jou wil hou nie.
“Jy moet vryheid kan hê om jou eie dinge te doen wanneer jy getroud is.”
Verwante artikels:
• Ouma- en oupagrootjie al 59 jaar saam
• Steeds gelukkig getroud na 60 jaar
