Omgee-kerk vier verjaardag
Die kerk fokus op Afrikaanssprekendes van alle bevolkingsgroepe tussen die ouderdom van 20 en 45, maar almal is welkom.
Die Omgee-kerk het onlangs vier jaar oud geword en die geleentheid gevier.
Ds Pieter Fourie het in sy boodskap gewys op die dankbaarheid waarmee die kerk terugkyk sedert die eerste erediens by Big Five gehou is.
‘n Jaar later het die kerk oorgeskuif na die Hoërskool Nic Diedericks waar die eredienste steeds elke Sondag om 9vm gehou word en ‘n biduur elke Woensdagaand om 7nm in die personeelkamer. Donderdag-aande kom die tieners in ‘n selgroep om 7nm bymekaar.
‘n Jaar gelede het die kerk ook ingeskuif onder die vlerk van Lewende Woord in Pretoria en is nou in assosiasie met dié kerk in Brummeria. Lewende Woord het reeds meer as 20 gemeentes regoor Suid-Afrika en meer as 30 kerke of bediening is in assosiasie met die gewilde vernuwingskerk wat onder leiding van Nevil Norden staan.
Volgens Fourie het die gemeente by ‘n kruispad gekom soos elke dinamiese organisasie wat gedurig moet aanpas by veranderende omstandighede en moet groei. Die karakter van die kerk is steeds om te fokus op die waarde van omgee. Talle lidmate getuig hiervan dat hulle “tuisgekom het” in die kerk en dat die omgee en liefde vir mekaar kenmerkend van dié geloofsgemeenskap is waar niemand uitgesluit word nie.
Daar is egter ook heelwat ander uitdagings waaraan aandag gegee word. Die leierskap is die afgelope twee maande besig met strategiese beplanning om te kyk na uitdagings om die kerk in die volgende jaar na nuwe hoogtepunte te neem. Sekere kritiese areas word tans aangespreek, onder andere die kinderkerk wat ‘n nuwe baadjie aantrek om ‘n tuiste vir Afrikaanse kinders te bied. Dit is hoekom die kinderbediening die kerk na aan die hart lê en daar ‘n groot aksie is om die kinderkerk na uitnemendheid te neem.
Omgee-kerk streef ook na uitnemendheid in haar Lof-en aanbidding tydens die eredienste om kinders van God in gees en waarheid in God se teenwoordigheid te bring.
Die kerk fokus op Afrikaanssprekendes van alle bevolkingsgroepe tussen die ouderdom van 20 en 45, maar almal is welkom.
Tydens die verjaardagdiens het kerkgangers heerlik saam gekuier en geëet ná die tyd. Die warmte waarmee elkeen tuis voel in die kerk en almal ingenooi is, het kenmerkend uitgestaan. Die kerk sien met groot opgewondenheid uit na die volgende jaar en glo dat positiewe veranderinge te sien sal wees.
Almal wat soek na ‘n kerk om in tuis te kom en die warm liefde van die evangelie te ervaar, word uitgenooi na die eredienste op Sondae. Vir berading en ander navrae, bel gerus vir ds Pieter Fourie by 083 440 5450 of volg sy Facebook-bediening. Vir navrae oor die tienergroep, bel vir Erich by 076 904 3408.
Verwante artikels:
• Facebook supports homosexual marriage, do you?


