Local newsNews

‘Help my dwelms jaag’

'n Plaaslike pensioentrekker gaan ingryp en dwelm- en alkoholmisbruik probeer beveg deur die voordele van 'n gesonde leefstyl te wys.

Attie Tereblanche, 71, glo hy het ‘n talent wat jongmense van dwelm- en alkoholmisbruik sal laat afsien. Daardie talent is fiksheid.

Hy glo hy is nog so fiks en gesond omrede hy altyd geweier het om by verkeerde dinge betrokke te raak.

Attie is in Kroonstad gebore en het besluit om in Krugersdorp af te tree. Hy is ‘n alleenloper met twee kinders en vier kleinkinders.

Hy het vertel hoewel hy reeds ‘n pensioentrekker is, hy ‘n jonger atleet stof in die oë sal kan skop met langafstand- en oorkruishardloop. Attie is passievol oor fiksheid en gesondheid, en hoop om jongmense te inspireer om ook ‘n gesonder besluit te neem. “Ek is baie hartseer om te sien hoe sommige van ons dorp se jonges so aan dwelms verslaaf is,” het hy gesê.

Attie het al tevore by plaaslike skole gaan hardloop en het vertel die kinders kan soms nie glo hoe fiks hy is nie.

“Toe ek 50 jaar oud was, het ‘n dokter vir my vertel dat ek die binnegoed van ‘n 25-jarige het,” het Attie onthou.

Hy kan glo op ‘n goeie dag 100 meter in 15 sekondes hardloop.

Maar hierdie talent wil Attie nie laat verlore gaan nie.

“Ek wil by skole gaan hardloop om kinders te inspireer om liewer op gesondheid te fokus as om dwelms en alkohol te misbruik,” het hy gesê.

Hy wil graag ‘n projek afskop waar hy verskillende skole kan besoek en gesels oor die gevolge van ‘n gesonde leefstyl deur sy fiksheid as bewys daarvan ten toon te stel. Hy wil nie sien hoe jong talent vermors word deur verkeerde besluite nie.

“My broer sou ‘n fantastiese sportman gewees het as hy nie onder sy vroeë verkeerde besluite gely het nie,” het hy verduidelik.

Sou jy belang stel om Attie te help, kontak hom by 079 584 0740.

Lees ook:

• Fitness has never looked this good

• Op die herstelpad, nou ploeg ons terug

• ‘n Warm verskil aan haweloses gemaak

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button