[FOTO’s] Tannie Loo word 100!
Sy is wel die laaste oorlewende van haar familiegesin, maar tannie Loo het nog baie om oor te glimlag.
Tannie Loo het op 5 April 100 jaar oud geword.
Sy het verlede Saterdag, 2 April, die geleentheid tydens ‘n groot verjaarsdagpartytjie gevier wat haar kerk, Volle Evangelie gemeente van Krugersdorp-Wes gereël het.
Daar is Donderdagoggend (7 April) ‘n onderhoud op 94.7 Breakfast Express met haar uitgesaai waartydens sy bevestig het dat sy gereeld groente, vleis en vrugte eet. Na die onderhoud wat net voor 7vm uitgesaai is, is tannie Loo se gunsteling liedjie, Amazing Grace, gespeel.
Louisa Mostert, oftewel tannie Loo, is die laaste oorlewende van haar gesin en bly steeds in Krugersdorp, bestuur haar eie kar en versorg haar eie tuin. Vriende en gemeentelede vertel dat tannie Loo ‘n selfstandige en gelowige vrou is wat altyd daar is om te help wanneer iemand haar nodig het.
Pieter Ras het by die partytjie met lof gepraat oor die vrou in wie se huis hy grootgeword het.
“‘n Mens kan baie leer uit haar ondervinding. Ek dank die Here dat hy haar so lank dra,” het hy gesê.
Die kerksaal in Dekkerstraat was met talle pienk en grys ballonne versier. ‘n Pienk koek en hope geskenke het voor in die saal gestaan, met tannie Loo net agter op die verhoog in ‘n sagte geel rok. Tannie Loo het met ‘n helder kroon op haar kop gespog.
“Ek dank die Here dat hy my so lank gespaar het en deur siektes gedra het. Ek het nooit verwag om so oud te word nie,” het sy gesê.
Volgens tannie Loo, wat al 59 jaar ‘n lid van die Volle Evangelie gemeente is, is om onder die Here se leiding te lewe die belangrikste besluit wat ‘n jongmens kan neem.
Tannie Loo het op ‘n vraag geantwoord dat daar drie groot geheime vir ‘n lang lewe is:
“Dien die Here. Hê liefde in jou hart vir jou medemens. Werk hard.”
Vir meer foto’s van tannie Loo se verjaarsdagpartytjie, kliek hier.
Lees ook:
• Na 100 jaar steeds perdfris en gesond
• Kerk vier 100ste bestaansjaar
• Oupa word 100 op Nuwejaarsdag
