Editor's choiceLocal newsNews

‘Ons het wol en lappies nodig’

Bejaardes van Môreglans Tehuis brei, hekel en maak unieke handgemaakte produkte om noodsaaklike fondse in te samel.

San-Mari Ferreira het onlangs by Môreglans Tehuis aangesluit en beoog om die inwoners se lewens te verhelder met verskeie aktiwiteite en projekte.

Die maatskaplike werker en biokinetikus, wat hulle elke week as vrywilliger besoek, gaan ‘n deel van hierdie aktiwiteite verrig.

Tans op die agenda is die voorbereiding, beplanning en bemarking van hul Wintermark.

Fanie Meyer en San-Mari Ferreira werk hard om van Môreglans se Wintermark 'n sukses te maak.
Fanie Meyer en San-Mari Ferreira werk hard om van Môreglans se Wintermark ‘n sukses te maak.

Met die hulp van die tehuis se bestuurder, Fanie Meyer, en die flukse bejaardes, word daar byna dag en nag gebrei, gehekel en aan die mark beplan.

Die mark sal nie net die unieke handgemaakte produkte van die seniors te koop aanbied nie, maar daar gaan ook verskeie ander stalletjies wees wat smullekker happies soos tradisionele kerrie-en-rys, koffie, pannekoek en vele meer verkoop.

Fondse wat ingesamel word tydens die mark sal vir die opgradering van die geboue sowel as ander projekte van die tehuis gebruik word.

“Om hierdie projek ‘n sukses te maak, vra ons die gemeenskap vir enige oorskiet- of ekstra lappies en wol. Die inwoners het reeds byna al hulle wol opgebrei vir die mark en is reg vir nog baie meer,” het San-Mari gesê.

Die mark sal op 4 Junie vanaf 9vm op die tehuis se terrein gehou word.

Vir verdere inligting of om ‘n skenking te doen, kontak San-Mari by 011 665 1388.

Soortgelyke artikels:

Môreglans doen dit sommer self

‘n Warmer winter vir Môreglans

Dubbele Kersfees bederf vir Môreglans

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button