‘n Bejaarde vrou is op Vrydag (13 Mei) deur drie vroue, wat blykbaar in hulle huis wat op die mark is belang gestel het, beroof.
*Sarie het die deur vir die vroue, wat volgens haar netjies gekleë was, oopgemaak en deur die huis gevat. Haar man, Gideon Strydom, was in die stoor besig.
“Hulle het glad nie verdag gelyk nie,” het sy gesê.
Volgens Sarie het twee vroue met tyd in verskillende vertrekke afgedwaal terwyl ‘n ander een altyd by haar was. Nadat Sarie aan die drie kastige kopers totsiens gesê het, het sy, toe sy na haar kamer toe gaan, besef haar notaboek en beursie is gesteel.
“Ek het toe ook gesien dat daar in kaste gegrou is en self een van die yskaslaaie het buite die yskasdeur gestaan,” het sy onthou.
Toe Strydom die nommer bel wat een van die vroue by hulle gelos het, antwoord ‘n vrou wat vir hulle vertel het dat sy nooit na ‘n huis gaan kyk het nie en ook nie belangstel om een te koop nie.
Strydom het aan die News vertel dat hy en sy vrou nie weer die deur vir potensiële kopers sal oopmaak tensy hulle ‘n afspraak saam met ‘n huisagent het nie.
“Ek het die polisie van die saak ingelig en wil graag hê die gemeenskap moet bewus wees van sulke gevalle,” het hy vertel.
*Regte naam weerhou.
Verwante artikels:
Bejaarde in haar huis aangeval
‘Hou jou bek, ek skiet jou vrek’
