Braai-protokol: dit is ‘n Suid-Afrikaanse wet
Suid-Afrikaaners reg oor vier vandag 'n instelling wat net so belangrik is soos Menseregtedag.
‘n Vrou sal dit nooit verstaan nie. Dit is ‘n man se besigheid- ernstige besigheid.
Dit word beskou as ‘n kuns – die grootte waarin ‘n blokkie vuuraansteker gebreek moet word, die verspreiding van die kole rondom die blokkies en die versigtige manier waarop die vuur aangesteek word.
Daarna kom die belangrikste deel – die ‘tsss aaa’ van ‘n blikkie bier wat oopgemaak word en die mans wat hand-in-sak na die vuur toe aanstap.
Die manne waak oor die vuur asof die braaimandjie enige tyd kan voete kry en na ‘n land sonder etol of studentestakings gaan vlug.
Sonder enige geskrewe reëls volg die manne braai-protokol en -etiket. Die man met die braaitang se woord is wet. Met ‘n beweging van sy pols en ‘n enkele klap van die braaitang, wink hy sy vrou nader.
Sy kyk op deur die kombuisvenster, rol haar oë, sit die mes en slaaigoed neer en gaan haal die vleis en nog ‘n bier uit die yskas uit.
Die tweede in beheer, gewoonlik die een wat die beste braaistorie vertel, neem die vleis, maak dit oop en rangskik dit op die rooster.
Deel van sy werk is om vir die braaimeester ‘nog enetjie’ oop te maak.
Die dun gesnyde tjoppies is wortel van ‘n ernstige gesprek.
“Jy sal nie glo hoeveel ek vir die suinige stukkies betaal het nie,” sê iemand na ‘n slukkie uit die blikkie.
“Ja, en kan jy glo dit gaan met 15 persent op,” antwoord die braaimeester. Die boodskap word sleg ontvang en – asof dit geoefen was – kyk die mans gelyk af en skud hulle koppe.
‘n Kort stilte volg. “Die WP het ook maar net-net gewen,” sê een, net om die stilte te verbreek.
Die braaimeester glimlag en rol die boerewors stadig oor die rooster, en sê niks want dit was sy span, die Pumas wat verloor het.
“Kyk na dié snaakse braaivideo’s,” sê die braaimeester om die aandag van sy span se pak slae af te trek.
Lees ook:
Sizzling braai tips for summer
Consumers expected to braai more
Vleisie oor die kole op die Amerikaanse manier
[VIDEO] Funny man back in town
