Boereoorlog-boekbekendstelling hipnotiseer gehoor
"Die geskiedenis gaan homself herhaal en daar gaan weer broers wees wat lynreg teenoor mekaar baklei."
“Jy moet jouself kundig maak om kommentaar te kan lewer oor die geskiedenis.” Met hierdie woorde het die bekende Afrikaanse outeur Albert Blake sy boekbekendstelling afgesluit.
Tydens ‘n geleentheid wat die Krugersdorpse Rotariërklub by Golden Age Village aangebied het, het Albert oor die geskiedenis van Suid-Afrika en die prag daarvan gepraat om die diepte van sy jongste boek – Broedertwis – aan die gehoor te verduidelik.
Die gehoor kon saam gesels en kort voor lank is hy gevra wat hom geïnspireer het om die boek te skryf.
“Die boek gaan baie oor die invloed van vroue op broers en hoe versigtig ‘n mens moet wees as jy ideale wil oordra.”
Lede van die gehoor wat alreeds die boek gelees het, wou weet hoekom sekere van die karakters anders opgetree en anders gereageer het.
“Dit was heeltemal ‘n ander tyd as waarin ons lewe,” het Albert gesê.
Die boek handel oor een oorlog, twee broers en een tragiese twis. Generaal Christiaan de Wet word na die Anglo-Boereoorlog steeds bewonder as ‘n onverbiddelike bittereinder, maar sy broer Piet word onthou as die verraaier wat die wapen teen sy eie mense opgeneem het. In die boek probeer Albert om die leser te laat verstaan waarom hulle so lynreg in die stryd met mekaar was. Die rol van geloofsoortuigings, vroue en oorlogtrauma in hulle keuses word ook as hooftemas in die boek uitgelig.
Die gehoor het ook vrae oor Albert se ander top verkopers, Boereverraaier en Moord en Roof gevra. Die meeste van Albert se boeke het een tema in gemeen; die Anglo-Boereoorlog en hoe dit die Afrikaner-volk geaffekteer het. Collin Steyn, president van die Rotariërs het die praatjie afgesluit deur te sê die boek het hom gehipnotiseer.
“As jy eers een keer gehipnotiseer is, val jy vinnig weer terug in hipnose,” het Collin gesê. “Hierdie boek was so – as jy eers begin lees is dit moeilik om van die karakters te ontsnap.”
Albert het aan die einde van sy praatjie die slingereffek verduidelik.
“Die geskiedenis gaan homself herhaal en daar gaan weer broers wees wat lynreg teenoor mekaar baklei,” het Albert gesê. “Miskien sal die broers dié keer kundiger wees.”
Related articles:
• Rotary Club announces new president
• Rotary Club honours leaders from the community
• Rotary Club Presidential Induction
