Alida van der Westhuizen en Poppie Kruger trek 'n Kersklapper om te sien wie van hulle twee die geskenkie gaan kry.
Party mense is ryk aan geld, ander is ryk aan beleggings en eiendomme … maar vir die meeste bejaardes lê die grootste rykdom in hul kinders, gesondheid en genade. Daarom het Grain Care, ‘n plaaslike graanprodusent besluit om die Wes-Randse bejaardes met ‘n vroeëKerspartytjie te bederf.
Op Donderdag, 1 Desember het die organisasie 400 mense van verskeie kerke en tehuise genooi om ‘n gratis ete en vertoning by NG Suiderligin Krugersdorp-Wes te geniet.
Een vir een het die wyses en gryses die saal binnegestap. Elkeen het ‘n kleurvolle Kersklapper met ‘n spesiale verrassing in ontvang.
Lena Kretzschmar, Tris Strydom, Dolly Jordaan en Winnie Groenewaldt van Huis Moria kon ook die gratis ete en vertoning tydens die Kersfeesbederf vir bejaardes geniet.
By die tafels het die gaste ‘n voorgereg en koeldrank geniet voordat daar ‘n gelukstrekking vir geskenke gehou is.
“Ons is geseënd om te kan sê dat ons hierdie jaar genoeg geskenke het om vir presies die helfte van die gaste te kan gee,” het Mariaan le Roux, komiteelid van Grain Care gesê.
“Verlede jaar kon ons net vir een persoon aan elke tafel ‘n geskenk gee, maar dié jaar kan ons vir ses aan een tafel gee.”
Bettie Lamprecht het ‘n geskenk van Grain Care na ‘n gelukstrekking ontvang.
Die nommers van die geskenke was aan die agterkant van ‘n houthartjie in ‘n potplantjie vasgeplak. Gaste kon die plantjie na die tyd huis toe neem.
Die geskenke het bederfies soos koekies, skryfbehoeftes, boeke en lekkerruik-badgoed ingesluit.
Die geleentheid is moontlik gemaak deur verskeie borge wat geld en goedere vir die geleentheid geskenk het.
Grain Carehet ook ‘n Tiendeprojek wat dwarsdeur die jaar volgehou word. Die organisasie sit geld weg en gebruik dit dan aan die einde van die jaar om mense in die gemeenskap te help.
“Die projek is my lewe,” het Mariaan gesê. “Die mense se vreugdevolle gesigsuitdrukkings is so ‘n beloning dat ek myself vir jare nog die projek sien doen.”
Alida van der Westhuizen en Poppie Kruger trek ‘n Kersklapper om te sien wie van hulle twee die geskenkie gaan kry.
Die gaste kon ook die inspirerende liedjies van gaskunstenaar Manie Jackson geniet terwyl die hoofgereg aan hulle bedien is.
“Dit was werklik ‘n bederfie vir die mense, en hulle hoef nie eers af te dek of die skottelgoed te was nie. Die dag was net vir hulle.”