Nog nie te laat om aan te sluit nie
Die Krugersdorpse Stapklub se laaste roete vir die jaar word dié naweek gestap.
Dit is nog nie te laat om saam met die Krugersdorpse Stapklub ‘n paar heuwels te gaan uitstap nie.
Die laaste staptog vir die jaar word op 10 Desember by Groenkloof aangebied.
Dit is een van die klub se gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die betreklik nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ‘n pragtige roete, met sy effens moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ‘n bonus. Daar is rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas; ‘n fees vir die oog. Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi, en is bedoel vir diegene wat ‘n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg. Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die staproete nie. Mens kan nog ‘n trein daar onder sien verbyry, en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Daar is ‘n mooi piekniekterrein waar geparkeer word, en daar word gewoonlik ‘n vleisie gebraai as daar klaar gestap is.
Vir dié wat lus het om die nuwe jaar op ‘n treffende wyse aan te pak, val gerus in wanneer die stappers op 14 Januarie by Kloofendal gaan stap.
Hierdie is ‘n gemaklike, lekker, pragtige en veilige roete. Dit is hoe stappers hierdie roete beskryf, want van al die nabye roetes, is hierdie stap werklik ‘n ontspanning vir siel en liggaam. Beginners vind sommige plekke op die roete effens moeilik, maar as mens weet wat voorlê, word dit al hoe makliker. Die roete is omtrent sewe kilometer lank, teen koppies op en af, maar nie regtig hoog nie, en al lê dit in die middel van die woongebiede is dit tog afgesonder en rustig, en baie mooi. Die roete word goed versorg, maar klitsgras is dié tyd van die jaar op al die roetes. Dit is gratis om daar te gaan stap, en stappers het nog nooit iemand teëgekom wat nie die roete geniet nie.
Vir eerste veldstappers is dit ‘n uitstekende geleentheid om die veld naby die huis en in ‘n pragtige omgewing te geniet.
Indien jy belangstel, skakel gerus vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555.
Lees verder:
Heerlike lentestap – kom verfris jou siel
