Na 60 jaar nog steeds mekaar se eerste
"Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie, maar, na 'n groot gesukkel het ek my broer gaan aflaai en eindelik was ek en Sanna alleen."
Dit was liefde met die eerste oogopslag vir twee broers op ‘n toe-oogafspraak. Die een wat die pragtige jong vrou eerste gesien het, sou haar nie vir 50 ander vroue wou verruil nie.
Daar was net een probleem. Hendrik van Ede se broer het haar ook gesien en hy moes hom eers oortuig dat sy nie die vrou vir was hom nie.
“Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie,” het Hendrik tydens ‘n onlangse onderhoud gesê. “Maar, na ‘n groot gesukkel het ek hom gaan aflaai en uiteindelik was ek en Sanna alleen.”
Susanna was van daardie dag af die enigste vrou wat hy ooit sou liefhê.

“Sy was my eerste girlfriend. Ons kon ure lank op die tiekieboks praat, en as ek van my skof by die spoorweë af gekom het, sou ek met my fiets na haar toe ry net om ‘n bietjie te kuier.”
Na ‘n jaar van oor en weer kuier het Hendrik vir Susanna gevra om te trou.
“Ek was die eerste keer nogal skrikkerig,” het Susanna gesê. “Jy weet, ek was van jongs af in ‘n meisieskoshuis en ons is geleer jy moet pasop vir mansmense.”
Die twee pasgetroudes het hul wittebrood in Witbank deurgebring en het ‘n hele maand spandeer net om mekaar behoorlik te leer ken. “Na die honeymoon was die moon weg, en toe bly net my honey oor,” het Hendrik gesê.
Susanna het daar en dan besluit sy wil nooit weer ‘n ander man hê nie.

“Ek moet sê dit was nie altyd maklik nie, maar dit was moontlik. Ons was bitter jonk en dom, maar ons het mekaar grootgemaak soos wat ons wou, sonder om te veel van die ander persoon te verander.”
Die twee beskryf liefde as ‘n snaakse gevoel wat jou hart kielie en jou kop ‘bedonder’.
“Ek kan nie alles van ons troue onthou nie, want dit was bitter lank terug,” het Hendrik gesê.
“Dit was nie so lank terug nie,” het Susanna geantwoord.
“Dit was blerrie 60 jaar gelede, my vrou,” het Hendrik laggend geantwoord.
Saam het die gelukkige paartjie vier kinders, 12 kleinkinders, en ‘n ongelooflike 22 agterkleinkinders.
Die News wens Sanna en Hendrik baie geluk met hierdie mylpaalherdenking.
Verwante artikels:
•Couple celebrates golden anniversary
