Editor's choiceLocal newsNews

‘Laat die kinders na my toe kom’

Met sy aankoms by die nedersetting is Kersvader oorrompel deur kinders wat graag vir hom wou vertel wat hulle vir Kersfees wil hê.

Die kinders van die Pango informele nedersetting in Munsieville was omtrent bederf toe Kersvader met ‘n vragmotor vol speelgoed by hulle sinkhuisies op Donderdag, 15 Desember opgedaag het.

Nakita Pitser sit in die yslike groot geskenksak langs 'n teddie wat sy vir Kersfees gekry het.
Nakita Pitser sit in die yslike groot geskenksak langs ‘n teddie wat sy vir Kersfees gekry het.

Met sy aankoms by die nedersetting, is Kersvader oorrompel deur kinders wat graag vir hom wou vertel wat hulle vir Kersfees wil hê. Een seun het ‘n aanloop van byna 10 meter gehad en in Kersvader se arms gespring. Daarna kon hy nie ophou om vir sy maats te vertel dat hy ‘n persoonlike drukkie van Kersvader ontvang het nie. Hy het hulle ook aangemoedig om self nader te staan vir drukkies.

Toe begin Kersvader met sy formele besigheid. Met die hulp van die inwoners het hy en ‘n elfie – uit die Noordpool – kartonne vol kos en klere van die vragmotor se sleepwa begin aflaai en dit onder die volwassenes begin uitdeel. Daarna was dit die kinders se beurt.

Sonette Engelbrecht hou 'n yslike groot geskenkpak in haar hand terwyl Nakita Pitzer nuuskierig loer wat in die sak is.
Sonette Engelbrecht hou ‘n yslike groot geskenkpak in haar hand terwyl Nakita Pitzer nuuskierig loer wat in die sak is.

Kersvader het op die sleepwa van die vragmotor geklim en Kerssakke, wat hoër as die kinders self gestaan het, begin uitdeel. Een vir een het Kersvader en die elfie die inwoners se huisnommers uitgeroep en die geskenke vir hulle gegee. Sommige het met kinders op hulle heupe hulle pakkies opgetel en uit die skare beweeg. Die kinders het dan van hulle ouers se heupe afgespring en bo in die pakkies geloer om te sien wat die vriendelike man met sy boeppens en baard vir hulle gebring het.

Meer as 209 geskenke is aan die kinders van die nedersetting uitgedeel, en meer as 290 geskenke is aan die ouers gegee. Die geskenke is versamel en versprei deur The Papillon Foundation, ‘n nie-winsgewende organisasie wat vir minderbevoorregte en arm gemeenskappe klere, beddegoed, meubels, gereedskap en ander goedere skenk.

“Ons wou nie net hulle magies volmaak met kos nie, ons wou ook hulle hartjies vol maak,” het Marian Smith, lid van die organisasie gesê.

Die organisasie bedank Imperial Tipper Resources, One Call Insurance Brokers, en al die individuele ‘engele’ wat geskenke en kos vir die geleentheid geskenk het.

Kersvader se elfie het gehelp om die yslike groot geskenkpakkies aan inwoners oor te handig.
Kersvader se elfie het gehelp om die yslike groot geskenkpakkies aan inwoners oor te handig.

Lees ook

Betty –  a problem solving angel in Munsieville

Mandela Day spirit in Munsieville

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button