Daar is definitief iets in die lug by Caxton Joburg West se kantore.
Die News is nie seker of dit veroorsaak word deur die lugversorging of miskien die middels wat ons gebruik om die tafels skoon te maak nie, maar daar is beslis iets oulik aan die gang. Snaaks genoeg affekteer dit net die vroue. Eers begin hul oë glasig lyk en dan, soos ‘n sterrehemel, begin die oë glinster.
Dan uit die bloute swel hulle op. Eers nege maande later begin die swelling sak.
Dié keer het die ‘gogga’ Sonette Beukes beetgekry. Eers het sy snaakse eetgewoontes ontwikkel en dinge wat vir haar voorheen lekker was, het haar heeltemal naar gemaak. Toe, soos ‘n feëprinses het haar aura opgehelder, en sy was skielik permanent aan die lag.
Haar kollegas in die kantoor het nie geweet wat aangaan nie, tot sy met ‘n 180 grade-glimlag trots vertel het dat sy swanger is. Niemand het geweet wat om te dink nie, maar almal het gebrand om dinge te vra.
Die kantoor se teetuin het daarna elke nou en dan soos ‘n byekorf geklink soos almal haar oor haar swangerskap begin uitvra het.
Toe breek die groot dag aan. Almal was nog met vakansie toe Sonette se Facebook-blad met oulike babafoto’s begin pryk het.
Sy het diep in Desember, die 28ste om presies te wees, in kraam gegaan.
“Dit was 12 uur van vreeslike pyn en uiteindelik het die dokter gesê hy sal eerder ‘n keisersnit wil doen,” het Sonette vertel. “Pappa (Johnny) was vreeslik op sy senuwees tydens die geboorte en kon dit nie hanteer dat ek soveel pyn gehad het nie.”
Daarna het die geboorte vinnig verloop en klein Michael het vir die eerste keer die wêreld gesien.
Hy het ‘n paar harde skreeue gegee en toe dadelik vas aan die slaap geraak. Daarna is die twee ontslaan en kon rustig by die huis aansterk.
Sonette se oudste kind, Dewald was vreeslik opgewonde oor sy nuwe boetie.
“Hy wil net die heeltyd help om hom te versorg.” Dewald het onlangs eers begin praat en kan net ‘n paar woorde sê. “Al kan hy net ‘n klein bietjie praat, sê hy baie keer Michael se naam.”
Michael het twee weke na sy geboorte vir die Caxton Joburg West-personeel kom kuier en daar is omtrent om die mannetjie gekloek.
Caxton Joburg West het onlangs ook Maritza en Riaan van Zyl se seun Milan, en Clinton en Lizelle Botha se seun Jean verwelkom en is trots om die derde miniatuurlid van die koerantfamilie voor te stel.
Lees meer hier
Ooievaar dra swaar aan Krugersdorp babas
Stomach cramps turns out to be a baby boy!

