Editor's choiceLocal newsNews

Seun vrees honde nadat hy gebyt is

Die hond is na bewering met 'n speelgoedgeweer geskiet.

Klein Zander Fritz is maar net 10 jaar oud en leef nou in vrees vir honde. ‘n Onskuldige kuier by ‘n maatjie het vir hom traumaties geëindig.

Zander en sy maatjie het voor dié se huis gespeel. Zander is ingenooi en is verseker dat dit veilig was om in te gaan aangesien hul groot hond glo skadeloos en aan ‘n band vas was, het Heidi, Zander se ma vertel. Enkele minute later het die hond losgekom en hom aangeval. Zander het gillend uit die erf in die straat afgehardloop en hulp gesoek. ‘n Verbyganger het hom gekalmeer en vir Heidi by die werk gebel. Die hond se eienaar, David Naudé, het daar aangekom en vir Heidi gesê dat hy vir Zander na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal sou neem.

Zander se bo-arm moes ook steke kry.
Zander se bo-arm moes ook steke kry.

“Ek het aan hom gesê dat my kind na ‘n privaat hospitaal geneem moet word om behoorlike behandeling te kry,” het Heidi gesê.

Naudé het volgens Heidi glad nie goed op haar antwoord gereageer nie en die foon in haar oor neergesit. Heidi het wel haar kind by die Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal gekry waar hy alleen saam met sy maatjie in Ongevalle gesit en wag het. Hy was nog vol bloed. Heidi het toe met Zander na hul huisdokter toe gejaag.

Hierdie lappe is gebruik is om Zander se wonde toe te draai. Foto ingestuur.
Hierdie lappe is gebruik is om Zander se wonde toe te draai. Foto ingestuur.

Volgens Heidi kan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) nie iets aan die saak doen nie. Haar dokter het ook nie ‘n spesiale verklaring vir die polisie uitgereik nie want volgens haar het hy nie tyd om in die hof te verskyn nie. Om alles te kroon, het Heidi vertel, het Naudé glo nie aangebied om Zander se mediese kostes te dra nie en het ook nie om verskoning gevra vir wat gebeur het nie.

Volgens Naudé, het Zander die vorige dag ook by sy seun gekuier. David het vir Zander gesê dat hy nie in die erf moet kom as hulle nie tuis is nie, want hulle hond hou nie van vreemde mense nie. David het ook aan die News vertel dat die kinders na bewering die hond met ‘n speelgoedgeweer geskiet het, wat die hond dalk aggressief gemaak het.

Die Naudé's se huis het 'n waarskuwingbord voor hul huis wat aandui dat enige persoon op eie risiko die erf betree.
Die Naudé’s se huis het ‘n waarskuwingbord voor hul huis wat aandui dat enige persoon op eie risiko die erf betree.

Artikel 1(1) van die Wysigingswet op Diere Aangeleenthede 42 van 1993 bepaal dat “enige persoon wat deur sy / haar nalatigheid veroorsaak dat ‘n dier iemand anders beseer, aan ‘n misdryf skuldig is”.

Die News het Roodepoort DBV om advies oor die kwessie genader.

“Wanneer ‘n hond iemand anders byt, moet daar ‘n saak teen die eienaar by die polisie geopen word,” het inspekteur Eddie Taljaard gesê.

Volgens hom mag die DBV nie ‘n hond sonder die eienaar se toestemming verwyder nie, tensy ‘n hofbevel daarvoor uitgereik is.

Die Naudés en Heidi is nie bevriend nie.

Lees meer hier

Sowat 25 honde al vergiftig

GRAFIESE FOTO: Hond deur inwoner se hek verskeur

Vertroetel hierdie diere die skoolvakansie

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button