Jarelange inwoners van begraafplaas geïntimideer
Die afgelope tyd het die begraafplaas erg verwaarloos geraak.
Die ou Burgershoop-begraafplaas in Krugersdorp-Wes is ‘n voortdurende teiken van vandale. Mogale City Munisipaliteit het uit desperaatheid wagte in diens geneem om die grafte en eiendom 24-uur per dag te beskerm.
“Alhoewel die wagte ten volle bewus is van die probleem, lê hulle in die huis en slaap,” het raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus gesê. Dié politieke party is deel van die veelpartyregering in Mogale City.
De Lange het vertel dat sy die begraafplaas Dinsdagoggend, 17 Januarie, besoek het en die betrokke wag gaan wakker maak het.
“Sipho se verweer was dat hy moeg was en ‘bietjie gerus’ het terwyl sy kollega êrens anders patrolleer.”
Op De Lange se vraag of hy besef hy word betaal om te werk en nie te lê en slaap nie, het hy slegs ‘ja’ geantwoord.
Volgens De Lange is een van die waghuise en woonhuis aan lede van die publiek verhuur. Mogale City se Gemeenskapsveiligheid het die huisbewoners, Johnny en Nita, egter versoek om die huis te ontruim sodat dit geverf kon word. Hulle is versoek om daarna nie terug te trek nie, maar wagte het in die huis gaan woon.
Sy het vertel dat sy verskeie kere met die bestuur van Mogale City se parke-afdeling gepraat het om vir die huisbewoners basiese gereedskap te gee sodat hulle die eiendom netjies kan hou, maar die versoek is nog nie toegestaan nie.
Die afgelope tyd het die begraafplaas erg verwaarloos geraak.
De Lange het gesê sy het reeds met Annette Fourie (Lid van die Burgemeesterskommitee oor Omgewingsake) gepraat en die saak sal indringend ondersoek word.
“Die algemene toestand van Krugersdorp se begraafplase, burgersentrums en ander erfenisfasiliteite is dié van verwaarlosing. Die nuwe veelpartyregering is vuur en vlam om die openbare plekke weer in ere te herstel sodra die ANC se voortdurende pogings om die plaaslike regering omver te werp, hokgeslaan kan word,” het De Lange gesê.
Lees meer hier
Vandalisme by begrafplaas kan beperk word
Begrafplaas-inwoners weer met uitsetting gedreig
