Haweloses se storie het baie kante
Elmien glo dat hulle nie negatiewe publisiteit verdien nie.
‘n Roerende verhaal wat mense se harte aangeraak het, ‘n vrou wat huisvesting gebied het en twee hawelose mense wat elkeen ‘n ander storie vertel.
‘n Paar weke gelede is Laurence en Elmien de Jong by ‘n vulstasie raakgesien waar hulle in ‘n stukkende motor gebly het. Hulle het boonop drie honde gehad om voor te sorg. ‘n Barmhartige Samaritaan het vir hulle huisvesting gegee, maar dinge het nie uitgewerk soos hulle gehoop het nie.
Die News het elkeen van die betrokkenes gevra om hul kant van die storie te vertel.
Sarah van Gass het op Facebook gelees dat mense hulp vra vir die De Jongs en sy het besluit om haar huis vir dié haweloses oop te stel.
“Die diere het my hart saggemaak en dis waarom ek hulp aangebied het,” het Sarah vertel.
Volgens Sarah het Laurence en Elmien aanvanklik baie ordentlik gelyk en sy het gedink dat hulle goed oor die weg sou kom. Sy het besluit dat hulle die eerste aand in die hoofhuis moes slaap, omdat hulle buitekamer nog nie leefbaar was nie. Sarah was egter ongelukkig omdat al drie die honde op haar dogter se bed geslaap het. Sarah het aan hulle gesê dat sy nie honde in haar huis toelaat nie, maar die paartjie het hulle nie aan haar gesteur nie. Die atmosfeer in die huis het glo ondraaglik geraak omdat die paartjie nie hul sin met alles kon kry nie.
“Toe ek een aand pap en wors gemaak het, wou die twee dit nie eet nie en het gesê selfs hul honde sou nie die kos eet nie,” het Sarah gekrenk gesê.
Sy het aan die News vertel dat die paartjie nie die klere wou dra wat aan hulle geskenk is nie en dat sy toe besluit het om dit vir ander mense te gee wat dit nodig gehad het.
Sarah het bevestig dat Laurence met ‘n gedeelte van die geld wat die publiek vir hulle geskenk het, vleis en drank gekoop het en dit nie met hulle gedeel het nie. Die paartjie was baie ongelukkig oor die News se artikel en het volgens Sarah “huismoles” veroorsaak.
“Ek het verskeie kere gehoor hoe Elmien vir haar dogter vertel hoe ‘n slegte mens ek is,” het Sarah gesê.
Die paartjie het glo ook in haar slaapkamer rondgekrap. Sy het op Elmien se foon foto’s van haar elektriese toestelle soos haar wasmasjien gesien. Sarah het die foto’s dadelik uitgevee.
Sarah het aan die News vertel dat sy ‘n senuwrak was en die paartjie gevra het om eerder ander heenkome te vind. Laurence het gesê Sarah moes eers ‘n uitsettingsbevel kry voor hy uit haar huis sou trek.
“Ek het gereël dat iemand hulle kom haal en die paartjie het ingestem om te gaan,” het Sarah gesê.
Volgens Sarah het sy aangebied om die skaaphond te hou omdat ‘n groot dier nie in ‘n kar kan bly nie. Elmien het die aanbod egter van die hand gewys.
Francois Joubert en sy vrou Elze het die paartjie by Sarah gaan haal en hulle na hul nuwe blyplek geneem.
“Laurence het my vertel dat hy met die pastoor gereël het om by hulle te gaan bly,” het Francois gesê.
Petro van Wyk wat deel is van die Selma Ministries-groep het verstom gestaan en kyk hoe Laurence en Elmien uit die bloute met al hul besittings voor hul huis afgelaai word.
“Ek sit met my hande in my hare want ek het nie plek vir die mense nie,” het Petro vertel.
Sy het egter die De Jongs ingeneem, maar sy kan hulle nie huisves nie. Volgens Petro gee sy vir hulle geestelike berading en sy neem hulle elke aand na ‘n skuiling toe. Sy voel dat iemand anders se probleem haar probleem geword het en dat sy nou ‘n oplossing vir die situasie moet kry.
Petro het ook aan die News vertel dat sy hulle graag wil help om weer op hul voete te kom, maar dat sy nie finansieel na hulle kan omsien nie.
Elmien was bereid om met die News te praat en om hul kant van die saak te stel.
Volgens Elmien het hulle kinders vir hulle gesê om uit Bloemfontein te trek en in Krugersdorp werk te gaan soek. Laurence het voorheen by ‘n vervoermaatskappy gewerk, maar het glo bedank weens “ongerymdhede”. Hul kinders kan nie vir hulle sorg of blyplek aanbied nie.
“Ons help self ons kinders met kos,” het Elmien gesê.
Elmien het vertel hoe hulle drie weke lank in ‘n begraafplaas in Krugersdorp gewoon het terwyl Laurence hulle motor probeer regmaak het. Sy het ook vertel dat hulle by die Sasol-vulstasie in Ruimsig beland het nadat hulle motor gebreek het. Hulle het gedurende die dag met hul honde in ‘n parkie gaan speel en snags by die vulstasie in hul kar geslaap.
“Ons het nie gebedel vir geld nie. Ons het deur die dag werk gesoek,” het Elmien gesê.
Elmien het vertel dat die eerste blyplek wat aangebied is vir hulle “te klein” was. Hulle het volgens haar baie lekker by Sarah gebly en het alles met hulle gedeel.
“Mens kan nie net afklim by mense en saam eet en niks bydra nie,” het Elmien gesê.
Elmien het ook vertel dat Laurence op 9 Januarie verjaar het en dat sy ma vir hom geld inbetaal het vir sy verjaarsdag. Hy het glo met daardie geld vir hom bier en vleis gekoop. Sy het ook vertel dat hy die bier en vleis met Sarah se man gedeel het.
Elmien het soos volg op ander bewerings gereageer:
• Dit is glo onwaar dat Laurence een van Sarah se honde met ‘n tuinhark geslaan het. “Ons is ‘n diereliefhebbers, hoekom sal ons iemand anders se diere wil seermaak?”
• Hulle het glo nie kos van die hand gewys nie, en gesê dat Sarah baie lekker kos gemaak het.
• Die enkelbed wat geskenk is, was glo te klein en boonop stukkend. Die ander bed wat geskenk is, is volgens Elmien “‘n pragtige bed”.
• Die klere wat geskenk is, was glo nie die regte grootte nie.
• Hulle het glo nooit in Sarah se huis rondgekrap nie. Sy het glo slegs Sarah se tydskrifte geleen en het dit teruggegee. Die foto’s op haar foon was glo “iemand anders se toestelle”.
Elmien voel egter dat hulle nie negatiewe publisiteit verdien nie en dat hulle graag weer op hul voete sal wil kom. Sy het ook gesê dat Laurence kru taal teenoor News-joernalis Nadine Maré gebruik het omdat hy glo op daardie oomblik “baie stres” gehad het.
Volgens Elmien is dit die eerste keer dat hulle in so situasie is en dat dit vir hulle ‘n groot terugslag en verleentheid is.
Die paartjie wil “nie baie” hê nie, maar sal graag wil hê dat Laurence ‘n werk kry, dat hul motor herstel word en dat hulle ‘n huis kry om in te bly. Elmien het ook aan die News gesê dat hulle geen kwade gevoelens teenoor Sarah en haar gesin het nie en dat hulle weer by hulle sal gaan kuier.
Lees meer hier
‘n Oplossing vir die bedelprobleem
