Editor's choiceLocal newsNews

Oudburgemeester sterf na kort siekbed

Sy heengaan het die hele gemeenskap geruk.

‘n Familieman, vriend, pa, oupa, eggenoot en oud-burgemeester; dit is wie Thys Steenkamp vir Krugersdorp was.

Thys is op Kersdag in 1944 gebore en het na ‘n kort siekbed op 30 Januarie gesterf.

Volgens Dinky, Thys se vrou, het hy ongeveer drie maande gelede begin siek voel. Hy is twee weke gelede met kanker gediagnoseer en sy heengaan het die hele gemeenskap geruk. Thys was 72 jaar oud.

“‘n Beter pa kon jy nie kry nie,” het sy dogter Elize Marais gesê.

Hy het sy loopbaan by die brandweer in Alberton begin en in 1963 Krugersdorp toe verhuis. Die volgende jaar op 3 Oktober het hy met Dinky getrou. Hulle het onlangs hul 52ste huweliksherdenking gevier. Hulle het vier kinders en sewe kleinkinders.

'n Onlangse foto van Thys voor hy met kanker gediagnoseer is.
‘n Onlangse foto van Thys voor hy met kanker gediagnoseer is.

Thys was die dorp se onderburgemeester in 1984, en is die daaropvolgende jaar as burgemeester verkies. Daarna het hy as voorsitter van die Bestuurskomitee van die Krugersdorpse Raad gedien. Later het die destydse Administrateur van Transvaal, dr Willem Cruywagen, die titel van Raadsheer aan hom toegeken. Thys het in 1994 uit die stadsraad getree om meer tyd met sy familie te spandeer.

Thys sal altyd onthou word as ‘n wonderlike pa en ‘n gesinsman. Sy sportmanskap was aansteeklik en sy kleinkinders sy trots. Tydens die News se besoek aan die familie kon hulle nie uitgepraat raak oor al hul goeie herinneringe saam nie. Alhoewel die trane oor hul wange gestroom het, het hulle vrede in hulle harte en eindelose stories om te vertel.

‘n Familievriend, Adriaan de Beer, het op Facebook ‘n huldeblyk geskryf oor die impak wat Thys op mense se lewens gehad het.

'n Facebook-foto van Thys Steenkamp, Riaan Steenkamp, Adriaan de Beer en Thys Steenkamp Junior.
‘n Facebook-foto van Thys Steenkamp, Riaan Steenkamp, Adriaan de Beer en Thys Steenkamp Junior.

“Om vandag hulde te bring aan ‘n ware vriend, is vir myself een dag te laat. Ek wou dit gister reeds doen, maar gedink daar sou nog tyd wees. Maar helaas, vanoggend is my dierbare vriend en vertroueling, Thys Steenkamp, na die Here toe. Maar dié wat agterbly, het steeds baie seer. En dit kan nie anders nie, want hier gaan ‘n man verby. Ek juig oor Thys. Hy is veilig waar hy moet wees. Hy het die stryd gestry, die wedloop volhard en voleindig.

“‘n Oupa vir sy pragtige kleinkinders. ‘n Vriend vir honderde meer as wat mens ooit sal weet. ‘n Godsman. ‘n Gesinsman. ‘n Familieman. ‘n Leier. ‘n Meesterbrein. ‘n Helper. ‘n Beplanner. ‘n Raadgewer. ‘n Burgemeester. ‘n Raadslid. ‘n Dienaar van mense. ‘n Sportkenner en sportman. ‘n Dierekenner. ‘n Puik hengelaar. ‘n Meesterkok. ‘n Gewillige oor. ‘n Oophand-man. ‘n Mens-mens. ‘n Plat-op-die-aarde man. ‘n Streng man, maar altyd ‘n regverdige man. ‘n Dissipline-man. ‘n Omgee-man. ‘n Pret-man. ‘n Waagmoedman. ‘n Oorwinnaar.”

Thys word Maandag, 6 Februarie vanuit die Hervormde Kerk, in Rustenburgweg, Krugersdorp-Wes om 10vm begrawe.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein HeraldRoodepoort RecordGet It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button