Mullies se stemme verstom skare
Albei kore sal later vanjaar te sien wees in die ‘grande' wat op 23 en 24 September in Silverstar se Globe plaasvind.
Laerskool Muldersdrif se Junior- en Seniorkore het in Mei aan die kykNET reeks, Sing in Harmonie, deelgeneem.
Met bykans 130 deelnemende skoolkore landwyd en R455 000 se pryse op die spel, is dit vir seker die grootste koregebeurtenis in Suid-Afrika.

Foto: Ingestuur
Albei Laerskool Muldersdrif se kore het met die louere weggestap in hulle episodes wat op Sondae om 4nm op kykNET NOU, kanaal 146 te sien was. Albei kore sal later vanjaar te sien wees in die ‘grande’ wat op 23 en 24 September in Silverstar se Globe plaasvind waar ‘n gehoor van bykans 4 000 toeskouers verwag word. Gaskunstenaars soos Brendan Peyper, Leah, Adam en baie meer sal die verhoog met hulle deel.
“Hierdie reeks bied ‘n wonderlike platform vir kore en vir die ontwikkeling van musiek in die land. Ons sien dit as ‘n voorreg om by die finaal weer die geleentheid te hê om ons passie en liefde vir musiek met die land te deel,” het Mareli Roodt, dirigent van die kore gesê.
Die reeks se uitvoerende vervaardiger en aanbieder, Anthonie Bougas (ook aan die stuur van reekse soos Rugby Ramme, Uitblinkers, Kleuterzone en Solis vir Christus), is verstom oor die talent wat vanjaar op die verhoog ten toon gestel is en nooi die plaaslike media uit om ook die nuus met hul gemeenskappe te deel.

Foto: Ingestuur
Meer oor Sing in Harmonie
Sing in Harmonie is die eerste kompetisie wat vir laerskool- en hoërskoolkore regoor Suid-Afrika die kans bied om op nasionale TV hulle merk te maak en in die proses hulle deel van R455 000 se pryse los te slaan.
Die reeks vier vanjaar sy vierde bestaansjaar. Na die reuse sukses van die derde reeks in 2016, met mediadekking deur onder andere Jukebox, Jam, Expresso, Beeld, Die Burger, Geloof, Hoop en Liefde en Bravo, is Anthonie en sy span oorval met navrae vir nuwe inskrywings.
Inskrywings is tans oop vir 2018, en kore word aangeraai om so gou moontlik in te skryf aangesien daar ‘n beperking op die getal inskrywings is.
Kitsfeite oor die kompetisie:
• Daar is vier afdelings: Juniorkore (laerskool Gr 1–3), Seniorkore formeel (laerskool Gr 4–7) , Seniorkore informeel (laerskool Gr 4–7) en Hoërskoolkore
• Koorsang is die een aktiwiteit wat nie seisoenaal gekenmerk word nie; leerders wat daaraan deelneem is regdeur die jaar pligsgetrou
• Groot advertensieborde van Sing in Harmonie sal reeds vroeg in Junie langs Gauteng se paaie te sien wees.
• Nog pryse sluit in ’n CD-opname van 10 snitte, ’n musiekvideo-opname, R10 000 in kontant vir die wenskool en hope TV-blootstelling
“Ek het as kind en tiener in verskeie kore gesing, maar koorsang was ’n aktiwiteit wat nie altyd erkenning gekry het soos sport nie. Daarom wou ek ’n geleentheid skep waar hierdie leerders (wat soms uit voel) die kans kry om op nasionale vlak en boonop op TV hul merk te maak,” het Anthonie gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
