Hoop vir Burgershoop
Met die hulp van vrywillgers van heinde en verre was Anne-marie en Elizabeth in staat daartoe om ongeveer 210 minderbevoorregte kinders te bederf vir die feesseisoen.
Op Saterdag, 16 Desember het talle Krugersdorp-Wes inwoners hul deure oopgemaak toe die geluid van feestelike klokke en rendierhoewe die stil strate gevul het.
Dit was niemand anders as Kersvader en lede van die Indigo Helping Hand Foundation nie! Hulle het van huis tot huis gereis om as deel van hul Indigo Kersfees Skoenboks Projek kersgeskenke en lekkernye aan minderbevoorregte kinders uit te deel.
Indigo Helping Hand Foundation is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat daarop gefokus is om minderbevooregtes te help, waar ookal die nood mag wees.
“Ons het dit goedgedink om die kinders van Burgershoop, onder andere, te bederf. Ons het dit ook as verassing vir die kinders gehou – hulle het glad nie geweet wanneer Kersvader sou kom kuier nie,” het Anne-Marie Brink van die organisasie vertel.

Met die hulp van vrywillgers van so ver as Kempton Park, Johannesburg, Fochville, Magaliesburg en Hartebeespoortdam was Anne-Marie en haar kollega, Elizabeth Swanepoel in staat daartoe om ongeveer 210 minderbevoorregte kinders te bederf vir die feesseisoen.
Hulle het ook werk daarvan gemaak om individuele kinders in Roodepoort en Randfontein te bederf. Dit volg nadat Elizabeth aan die begin van November vir drie opeenvolgende dae van huis tot huis in Burgershoop gestap het om presies uit te vind vir hoeveel kinders voorsiening gemaak moet word.
“Ons is baie streng op huisbesoeke. Ons sê nie net vir mense om te kry nie – ons kyk liewer na die individuele situasies en besluit daarvolgens hoe ons te werke sal gaan. Daar is soveel kinders wat regtig swaar kry,” het Elizabeth vertel.
Hulle beplan ook om later in die maand ‘n draai te maak by minderbevoorregte ouetehuise om die bejaardes met noodsaaklike benodighede te voorsien vir Kersfees.
“Alhoewel dit ‘n groot uitdaging was, was dit ‘n baie groot sukses. Die kinders se dankbaar gesiggies as jy vir hulle iets gee is prysloos. Ons moet mekaar help want van die mense het niks en ons het so baie om te gee,” het Anne-Marie vertel.
“Volgende jaar wil ons sommer groter gaan en nog meer mense betrek. Selfs nou is mense welkom om by ons aan te sluit soos ons die goedjies uit deel.”
Hulle sal ook nie nee sê vir nog skenkings van die gemeenskap nie. Indien jy kan help, skakel gerus 082 750 1170 of 074 092 7139 of stuur ‘n e-pos na helpinghandindigo@gmail.com.
