Monnaskoor kry silwer by Wêreldkoorspele
Aangesien dit Monnaskoor se eerste internasionale kompetisie was, is dit voorwaar 'n baie groot prestasie.
Hoërskool Monument se koor het groot opslae gemaak toe hulle van 10 tot 14 Julie aan die Wêreldkoorspele in Pretoria deelgeneem het.
Hulle is trots om aan te kondig dat hulle ‘n Vlak 9 silwertoekenning in die Gemengde Jeugkore-kategorie verwerf het. Dié koorgroep het slegs 1,26 punte te min vir die goud gehad.

Aangesien dit Monnaskoor se eerste internasionale kompetisie was, is dit voorwaar ‘n baie groot prestasie. Monnaskoor was een van 300 kore uit 60 lande wat deelgeneem het. Die top vyf lande in die kompetisie was Suid-Afrika, China, Rusland, VSA en Duitsland.
Volgens die koorspele-organiseerders was Monnaskoor een van die grootste kore wat aan die koorspele deelgeneem het.
Aangesien die Lindenkoor en die Monnaskoor in dieselfde kategorie deelgeneem het, kon die koorleier, Duncan Fourie nie albei kore dirigeer nie. Die koor het dus onder leiding van Christopher Fourie – wat ook sy debuut as dirigent gedurende hierdie geleentheid gemaak het – en Elmarie de Beer gestaan.
Hulle vertrou dat die Monnaskoor steeds sal groei en dat hulle ook in 2020 sal kwalifiseer en die geleentheid gegun sal word om aan die Wêreldkoorspele in België deel te neem.
Die koor spreek ook hul opregte dank en waardering uit teenoor hul skoolhoof, Johan Calitz vir die wonderlike geleentheid. Hulle bedank ook graag almal wat hulle in die proses ondersteun het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
