Heerlike warm atmosfeer by NG Krugersdorp-Oos se Winterfees
Die koel herfsoggend het vinnig in 'n warm middag verander en daar is tot laatmiddag gekuier.
Die NG Krugersdorp-Oos Gemeente se jaarlikse Winterfees was weereens ‘n heerlike dag van samesyn.
Dié jaar se fees, wat op 1 Mei op die kerkgronde in Lismorestraat plaasgevind het, was groter en beter – presies soos hulle beloof het – aangesien die revue-groepe van Laerskool Kenmare en Hoërskool Noordheuwel ook genooi was op by die fees op te tree.

Van oud tot jonk het lekker saam gekuier terwyl die pannekoeke gedraai en die wors gebraai is.
Die dag, wat ‘n groot fondsinsameling vir die kerk is, het met ‘n 5km-pretloop afgeskop. Daarna was die hekke oop vir kinders, ouers en grootouers, sowel as gemeentelede, om die dag saam te geniet.
Die koel herfsoggend het vinnig in ‘n warm middag verander en daar is tot laatmiddag gekuier.

Oulike stalletjies is orals op die kerkterrein opgeslaan waar handgemaakte goedere en gebak verkoop is en plaaslike entrepreneurs hul kuns en kreatiwiteit kon uitbeeld.
Elke jaar word die kerk se Winterfees net ‘n warmer affêre en vanjaar s’n was beslis een vir die boeke!

