Local newsNews

[OPVOLG] Groot verligting toe Andre se familie hom kom haal

André Fourie het drie jaar lank die koue, harde strate van die Wes-Rand op sy eie aangepak. Nadat hy gevind en gehelp is, was sy storie nog nie verby nie. Hy kon onlangs uiteindelik huis toe gaan.

Die News het onlangs die storie vertel van André Jacobus Fourie, wat deur twee lede van die gemeenskap op straat gevind is en die daaropvolgende soektog na sy verlore familie.

Nadat die berig op sosiale media en in die koerant gepubliseer is, het ‘n lid van Andre se familie dit raakgelees en News-joernalis, Natasha Pretorius, gebel om sy ma en suster se selfoonnommers te gee.

Leer hier: 

https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/379693/paartjie-ontferm-hul-vir-hawelose-wat-in-straat-le/

Die verhaal het so ontvou: Christelle en Jacques du Plessis het ‘n oproep gekry oor ‘n man wat op straat gelê het. Toe hulle daar kom, was André baie koud en swak. Hulle het die ambulans ontbied en van daar af het hulle ‘n pad saam met hom begin stap.

Annemarie Strydom, André se suster, Danie Strydom, sy swaer en Seun du Toit, ‘n vriend van Pietersburg (Polokwane) het af gery om haar broer te kom haal en huis toe te vat.

Sy het vertel dat André ‘n bietjie meer as drie jaar gelede besluit het om Krugersdorp toe te kom na sy vrou en kinders toe, nadat hy vir ‘n ruk lank by haar gebly het.

André ly jare lank aan epilepsie en het ook ‘n beroerte gehad voordat hy Krugersdorp toe gekom het.

In Krugersdorp het dinge nie vir André uitgewerk nie en is hy en sy vrou uitmekaar, waarna André by ander mense gaan woon het.

Wat met André gebeur het nadat hy by die mense gaan woon het, weet niemand regtig nie. Annemarie het vertel dat hulle lank na hom gesoek het en selfs Binnelandse Sake toe was om daar hulp te soek, maar hulle kon hom nooit opspoor nie.

André het vir die afgelope ruk by The Tower of Life, ‘n plaaslike skuiling vir haweloses geslaap, maar die week voor hy huis toe is, het hy weer weggeraak.

Hulle het drie dae lank gesoek voordat hulle hom opgespoor het, en dié keer het hy baie seergekry. Niemand weet of hy op straat aangeval is of dalk geval het nie.

Die paartjie het hom na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal toe geneem vir behandeling en dit is waar Annemarie hom opgelaai het.

André Fourie en sy sussie, Annemarie Strydom, op pad om hom huis toe te neem.
Foto’s: Natasha Pretorius.

Hy het ‘n week lank gewag vir X-strale en Annemarie het besluit om hom eerder huis toe te neem sodat die dokters daar hom kon behandel.

Terug by die huis het Annemarie vertel dat hulle hom na ‘n inrigting geneem het waar hy professionele behandeling kan kry.

Sy het bygevoeg dat sy net die beste behandeling vir haar boetie wil hê. Behalwe dat André nou tuis en veilig is, kon hy ook weer sy bejaarde moeder sien nadat hy geglo het dat sy reeds oorlede is.

Sy bedank almal wat gehelp het om haar boetie huis toe te bring, in besonder vir Christelle en Jacques.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button