Jong Megan se groot stryd wat voorlê
Die 13-jarige Megan Price laat nie toe dat iets haar onderkry nie, maar vir haar lê daar nog 'n groot stryd en 'n lang pad na herstel voor.
Die beeldskone Megan Price is volgens haar ouma, Maureen Grobler, ‘n uiters gelukkige, gedetermineerde kind wat niks in haar pad laat staan nie.
Die 13-jarige het egter reeds ‘n moeilike pad agter die rug en ‘n nog moeiliker pad wat voorlê.
Megan se ma was agt maande swanger toe Megan besluit het om haar opwagting te maak. Aneska Price se plasenta het van haar baarmoeder af weggeskeur, gevolglik was ma en dogter se lewens in gevaar. Megan is toe met ‘n noodkeisersnee in die wêreld gebring.
Maar omdat die kleine Megan die wêreld te vroeg kom bekyk het, was haar liggaam nie heeltemal klaar ontwikkel nie.
Die buisies wat afsonderlik na haar blaas en ingewande moes loop het een buis gevorm, haar een nier het die vorm van ‘n perdeskoen gehad en die uitskeidingsfunksies van haar liggaampie was ook nie reg nie.
Megan is oorgeplaas na ‘n hospitaal in Pretoria waar dokters rekonstruktiewe operasies gedoen het om alles min of meer normaal te laat werk. Sy het ook ‘n kolostomiesakkie gekry.
Megan het ‘n redelik normale kinderlewe gehad maar hoe ouer sy geword, het hoe meer infeksies het sy begin kry en die afgelope jaar van tyd tot tyd erge pyn gehad.
Die huisdokter het aanvanklik gedink dat sy erge blaasinfeksie het maar met verdere ondersoeke is daar bevind dat dit ‘n bietjie meer ingewikkeld is.
Sy is na ‘n ginekoloog en uroloog verwys, wat gevind het dat haar een nierbuis vergroot is en dat sy ginekologiese probleme gehad het.
Voordat al die nodige operasies gedoen kan word, moet Megan eers ‘n laparoskopie en twee ander prosedures ondergaan om vas te stel wat alles gedoen moet word.
Vir die laparoskopie alleen het die familie R51 000 nodig, en dan moet nog vir die ander groot operasies ook betaal word aangesien die gesin nie mediese dekking het nie. Hulle is self nie seker hoeveel alles gaan kos nie.
Megan se hele familie is besig om te spaar vir die prosedures. Haar ma, wat voltyds werk, verkoop ook skoonheidsprodukte om die kostes te probeer dek.
Daar is reeds geld bymekaar gemaak, maar dit gaan nie genoeg wees om vir alles te betaal nie.
Megan is ‘n pragtige blondekop wat selfs al modelwerk gedoen het. Sy het baie energie en haar ouma het vertel dat sy baie positief is oor die pad vorentoe.
Indien jy vir Megan wil help, kontak gerus News-joernalis, Natasha Pretorius, per epos by natashap@caxton.co.za.

