Nuwe baadjie en nuwe hoop vir huis vir haweloses
Na maande van wonder oor Grace House se toekoms is daar uiteindelik 'n antwoord.
Daar is maande lank reeds vrae rondom Grace House, ‘n huis vir haweloses. Gerugte dat die huis gaan toemaak het in November verlede jaar reeds die rondte begin doen. Maar, wat dalk ‘n hartseer situasie sou wees, het nou ‘n mooi storie van hoop geword.
JJ van Niekerk en Elize Erasmus van die Christian Life Savers Foundation het die finale kontrakte geteken wat verseker het dat hulle die huis vir haweloses kon oorneem.
Saam met die nuwe baadjie wat die huis gaan kry, gaan die naam ook verander na Christian Life Savers en dit is alles te danke aan die Infinite Grace-organisasie wat hulle borg.
Christian Life Savers Foundation is reeds 11 jaar lank betrokke by straatbedienings en het ook by Grace House bediening gedoen. Dit is hoe hulle te hore gekom het van die dilemma waarin die organisasie homself bevind het.
Dit was ook maar ‘n lang proses om tot by die punt te kom waar JJ en Elize die huis kon oorneem. Nadat hulle besluit het hulle wil die huis help, het hulle borgskappe by kerke en die gemeenskap gaan soek. Hulle het ‘n borg gekry maar dit het deur die mat geval.
“Die kostes om die plek aan die gang te hou is om en by R40 000 tot R50 000 per maand, en dit is net vir die perseel,” het JJ vertel.
Hy het verduidelik dat dit nog nie eens die kos, klere of iets so klein soos tandepasta vir die inwoners insluit nie.
“Ek het regtig hard gebid en gesê ‘Here, daar is nie ‘n manier wat die kinders op straat kan bly nie’. Ons passie is die kinders en hierdie is een van die min huise waar kinders ingeneem word,” het hy gesê.
Nadat hulle reeds begin moed verloor het, het daar “op ‘n bonatuurlike manier” hulp uit ‘n ander oord na hulle toe gekom.
‘n Gesprek met ‘n vriendin het hulle eendag gelei na die borgskap wat hulle nou het, die Infinite Grace-organisasie.
Hulle het reeds die agterstallige rekening vir water en ligte betaal wat afgesny was, en sal boonop die water, ligte en huur vir die volgende ses maande betaal. Christian Life Savers sal die perseel op hul naam huur.
“Die idee is om die huis selfonderhoudend te maak. Ons wil aanvanklik nie meer hê mense moet R20 betaal om hier te slaap nie. Dit is nie hoe ‘n mens die Here vereer nie.”
Hulle gaan nie permanente huisvesting bied nie maar wil die hulpbehoewendes help met vaardigheids- en sosiale ontwikkeling, en om ‘n pad met die Here te begin loop.
Wanneer hulle op hul eie bene kan staan en werk kry, beweeg hulle aan en maak weer plek vir die volgende mense wat hulp nodig het.
“Kinders geniet prioriteit van ons organisasie se kant af,” het JJ gesê.
Maar om hierdie droom van hulle ‘n realiteit te maak het hulle ook hulp van die gemeenskap nodig.
“Ons wil ook hierdie geleentheid gebruik om uit te reik na die gemeenskap, en alle mense wat voorheen hier betrokke was en nog steeds is, en dié wat wil betrokke raak. Ons het almal se hulp nodig en wil dit graag ‘n gemeenskapsprojek maak,” het hy verduidelik.
Een van die gemeenskap se grootste bekommernisse is die haweloses wat bedags by die huis leeglê.
“JJ se oogmerk is om die strate skoon te maak en die mense van die strate af te kry,” het Gerhard Prinsloo, een van dié wat met die projek help, verduidelik.
Indien jy belangstel om hulle op enige manier te help, skakel gerus vir JJ by 072 312 9111 of vir Elize by 073 689 2021.

